Skip to main content

Jurie Roux vs. Rapport


Thu, Jul 6, 2017

Bevinding deur die Persombud

6 Julie 2017

Hierdie bevinding is gebaseer op voorleggings deur mnr. Frikkie Erasmus, as prokureur in opdrag van mnr. Jurie Roux, en deur Alet Wichmann, interne ombud van Rapport, asook op ? ontmoeting tussen my en die partye op Stellenbosch op 3 Julie 2017 (wat ook deur Herman Scholtz, nuusredakteur, bygewoon is).

Roux, die uitvoerende hoof van die SA Rugbyunie (Saru), kla oor ? berig in Rapport op 16 April 2017 onder die opskrif Als op Jurie se skouers.

Klag

Roux kla dat die volgende stellings in die storie vals is:

·         Die Universiteit Stellenbosch (US) het klagtes van bedrog teen hom aanhangig gemaak, en daar is bewerings van bedrog teen hom waarop hy moet antwoord; en

·         Hy moet eersdaags in die hof verskyn.

Die teks

Die storie, geskryf deur Julian Jansen, sê Saru bloei miljoene, het steeds nie ? hoofborg nie en die man wat dít alles moet regmaak (Roux), moet eersdaags in die hof antwoord op bewerings van bedrog.

Die joernalis berig dat Roux self in omstredenheid gehul is en voeg by dat sy voormalige werkgewer (US), bedrogklagte teen hom ingedien het. Jansen skryf ook dat Roux se kontrak in 2014 met vyf jaar verleng is “te midde van die bedrogbewerings” teen hom.

DOKUMENTASIE VOOR DIE VERGADERING

Die klag in nader besonderhede

Die stellings in dispuut lui soos volg:

·         “[Saru] bloei miljoene, het steeds nie ? hoofborg nie en die man wat dít alles moet regmaak, moet eersdaags in die hof op bewerings van bedrog antwoord”;

·         “Roux is self in omstredenheid gehul. Die Universiteit Stellenbosch, sy voormalige werkgewer, het bedrogklagte teen hom ingedien”; en

·         “Roux is einde 2010 as Saru se uitvoerende hoof aangestel. Sy kontrak is te midde van die bedrogbewerings in 2014 met vyf jaar verleng”.

Erasmus sê hy het Rapport verskeie kere ingelig dat US bloot ? aanmelding ingevolge artikel 34 van Wet 12/2004 gedoen het, en dat die universiteit nie ? bedrogklag teen Roux aanhangig gemaak het nie. Daar is tot dusver ook geen polisie-dossier geopen nie, voeg hy by.  

Hy voer aan dat Rapport, wat ? leserstal van meer as 1.3 miljoen het, die (lasterlike) storie gepubliseer het met die bedoeling om die publiek valslik in te lig dat Roux oneerlik en ? bedrieër is.

Hy sê die beriggewing het Roux, wat ? hoë profiel (binne en buite Suid-Afrika) het, het hom “enorme” skade berokken deurdat dit sy reputasie aangetas en hom onder meer in die uitvoering van sy pligte benadeel het.    

Rapport se verweer

Wichmann ontken dat die berig feitelik foutief en onwaar is. Sy voer aan dat Roux se klagtes en argumente neerkom op ? poging om “alternatiewe feite” voor te stel aan Rapport se lesers en die feite só te poleer dat dit na iets anders lyk.

Agtergrond

Ter agtergrond sê die interne ombud die saak behels ? strafregtelike ondersoek deur die polisie, asook ? siviele geding waarin US vergoeding van Roux eis. “Albei sake is gegrond op dieselfde feitestel, naamlik die sogenaamde KPMG-verslag. Die verslag was die grondslag van die rapportering aan die polisie en vorm ook die grondslag van die siviele geding,” verduidelik sy.

Strafregtelike ondersoek

Wichmann sê die US het in 2013 in ? mediaverklaring aangekondig dat die universiteit die saak na die polisie verwys het. Die verklaring lui (Rapport se onderstreping):

“The ARC (Audit and Risk Committee) concluded that there was reasonable suspicion that an offence related to fraud had been committed by former Stellenbosch University employees. As the amount exceeded R100 000, the matter had to be reported to the South African National Police Service (SAPS) as legally required by Section 34(1) of the Prevention and Combating of Corrupt Activities Act…

“Stellenbosch University trusts that the SAPS will take the investigations further and has committed its full cooperation and support.”

Wichmann lei hieruit af dat die universiteit nie bloot ? “aanmelding” gedoen het nie – sy sê hoewel Roux argumenteer dat ? aanmelding nie dieselfde is as om ? saak te open nie, kom albei in werklikheid op die rapportering van ? beweerde misdaad neer.

Sy voer aan die wet vereis dat US die polisie nader, “maar art. 34(1) skep nie ? statutêre oortreding nie. Dit vereis steeds om ? aanmelding van ? spesifieke misdaad – in hierdie geval bedrog – te maak”.

Sy gaan voort: “Die Universiteit het ook nie net ? ‘aanmelding’ gedoen omdat die wet dit vereis nie, maar in die openbaar ? beroep op die polisie gedoen om dit te ondersoek. Die bedoeling van die universiteit was ondubbelsinnig om klagtes te lê, want daar kan nie ? ondersoek deur die polisie wees as daar nie ? dossier geopen is nie. Die ondersoekdagboek van die ondersoeker is deel van ? polisiedossier … Selfs indien daar dus net ? voorlopige ondersoek na ? saak is, word ? dossier geopen vir die ondersoekdagboek. Die dossier wat die universiteit geopen het is vir bedrog en dit word skriftelik bevestig deur die provinsiale polisiewoordvoerder…”

Wichmann sê die berig self bied ? uiteensetting van die status van die dossier – naamlik dat dit reeds na ? aanklaer verwys is, en toe terugverwys is na die ondersoekspan.

Siviele saak

Wichmann sê die US dagvaar Roux “op dieselfde  feitestel” as hierbo.

Sy erken dat die universiteit se verteenwoordigers nie die woord “bedrog” in hofstukke gebruik nie, maar voer aan dat hulle ongetwyfeld bewerings van bedrog maak. “In kort beweer hulle die universiteit is uit miljoene rande bedrieg omdat daar sonder toestemming met die begroting gepeuter is. Dit is immers dieselfde feitestel waarop hulle vroeër ? dossier van bedrog laat registreer het,” argumenteer sy.

Sy wys ook daarop dat die US uitdruklik bedrog in die persverklaring van 2013 beweer het.

Die interne ombud sê die regstegniese definisie van bedrog, soos omskryf deur die gerekende strafregkenner CR Snyman, is:  “…the unlawful and intentional making of a misrepresentation which causes actual prejudice or which is potentially prejudicial to another.”

Wichmann haal US onder meer soos volg in die siviele saak aan (Rapport se onderstreping):

·         “During the period 2002 to October 2010 Roux accessed the University’s electronic accounting system by using a particular financial computer programme, and without the knowledge of or authorisation by the Council (or an authorised delegate), and in breach of his contract of employment, altered the unrestricted reserves in a total amount of R35 312 004 as more fully set out below” (paragraaf 24 van die besonderhede van eis);

·         “The mechanism used by Roux to reallocate funding was unauthorised, not consistent with the University’s process to apply for funds and was contrary to the University’s policies and principles” (paragraaf 26);

·         “By acting as aforesaid, Roux effectively reduced the University’s unrestricted reserves without leaving any record of the transaction in the form of an audit trail” (paragraaf 26);

·         “Roux misrepresented the University’s accounting records and misapplied its assets causing the University’s patrimony to be reduced; the University accordingly suffered damages” (paragraaf 27); en

·         “These payments (R1,8 miljoen betaal aan WP) were unauthorised, not consistent with the University’s processes to apply for funds and were not supported by the University’s policies and principles. The payments amounted to a misapplication of the University’s assets and the University suffered damages as a result thereof” (paragrawe 29, 30).

Gevolgtrekkings

Uit bogenoemde voer Wichmann aan:

·         Roux moet inderdaad eersdaags in die hof antwoord op bewerings van bedrog;

·         Die berig onderskei tussen die siviele en strafregtelike sake deur nie te praat van bedrogklagtes nie, maar van bewerings van bedrog – die berig sê nie dat Roux strafregtelik aangekla is van bedrog nie. Die Valke se woordvoerder word in die berig aangehaal, wat die status van die strafregtelike saak uitklaar;

·         US is die klaer in ? strafregtelike ondersoek na bedrog, soos bevestig deur die polisie;

·         Roux se wettiese interpretasie van wat die “aanmelding”/rapportering/lê van klagtes behels, is nie volhoubaar nie. Die feite is: Die universiteit het bedrog vermoed, hulle het die wet nagekom deur die saak aan te meld, hulle het die polisie in die openbaar versoek om ondersoek in te stel (en dus by implikasie ? dossier geopen), en daar is inderdaad ? strafregtelike ondersoek na bedrog waarin die universiteit die klaer is (soos bevestig deur die polisie). Erasmus kan nie sonder meer as ? feit verklaar dat “geen polisie-dossier geopen is” nie, sonder om enige bewyse te lewer en in skrille kontras met die polisie se amptelike weergawe; en

·         Die bewerings van bedrog is al in 2013 gemaak in die persverklaring en die bedrogondersoek deur die polisie is ook in 2013 begin.  Daar was dus bewerings van bedrog toe sy kontrak in 2014 verleng is.

Op grond van die bogenoemde vra Rapport hierdie kantoor om Roux se klagte in geheel van die hand te wys.

Roux reageer

Strafregtelike ondersoek

Erasmus sê Rapport onderstreep die woorde “an offence related to fraud”, maar laat gerieflik na om die voorafgaande woorde “reasonable suspicion that” ook te onderstreep. Hy sê dat, as albei saam in konteks gelees word, is dit duidelik dat die ARC gehandel het bloot op ? redelike vermoede, en nie op ? bevinding dat bedrog inderdaad gepleeg is nie.

Anders as Rapport, wat argumenteer dat US nie bloot ? “aanmelding” gemaak het nie, voer Erasmus aan dat dit wel bloot ? aanmelding was.

Ter ondersteuning van sy argument wys hy op skrywes van US se prokureurs, Werksmans, waaruit hy die volgende aanhaal (Erasmus se onderstrepings):

·           13 November 2013: “Ons instruksies is dat ons kliënt nie van voorneme is om kriminele aanklagte teen u  kliënt by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig te maak nie”; en

·           20 November 2013: “Ons instruksies is dat ons kliënt op 19 November 2013 ? aanmelding in terme van artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede 12 van 2004 … by die Handelsmisdaadeenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens … se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke in Bellville … gemaak het op grond van die regsplig wat op ons kliënt rus om ? redelike vermoede dat ? misdryf van diefstal, bedrog, afpersing, vervalsing of uitgifte van ? vervalste dokument gepleeg is waarby ? bedrag van R100 000 of meer betrokke is aan te meld”.

Verdere stawing dat dit bloot ? aanmelding in terme van art. 34(1) was, sê Erasmus, word verleen deur die volgende antwoord wat US op 19 Mei 2017 aan Rapport gegee het, in reaksie op ? spesifieke navraag

“Die Universiteit Stellenbosch het op 19 November 2013 na forensiese ondersoeke beweerde finansiële onreëlmatighede by die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld, en is dus die klaer. Die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede (Section 34(1) of the Prevention and Combating of Corrupt Activities Act) – Wet no 12 van 2004 – vereis dat alle sake waar die beweerde onreëlmatighede ? bedrag van R100 000 oorskry by die SAPD aangemeld moet word. Die Valke sal besluit op die klagtes wat gestel word” (Erasmus se onderstrepings).

Erasmus argumenteer bogenoemde weerspreek Rapport se stelling dat dit die US se bedoeling was om klagtes in te dien.

Die prokureur voeg by dat Wichmann se stelling dat daar nie ? ondersoek deur die polisie kan wees as daar nie ? dossier geopen is nie, dui op onkunde – ? aanmelding ingevolge art. 34(1) is bloot ? “enquiry” (soos die saaknommer aandui). “Eers indien voldoende stawende bewys in die “enquiry” versamel word om ? kriminele klagte te ondersteun, word ? dossier geopen met ? CAS saaknommer as identifikasie. Die ondersoekdagboek waarna Rapport verwys, raak ook eers ter sprake nadat die CAS dossier geopen is en die ondersoek ? aanvang neem,” sê hy.

Siviele saak

Erasmus sê dat Rapport die strafregtelike definisie van bedrog in twee sinne aanhaal,  terwyl die outeur CR Snyman (asook verskeie ander gerekende strafregkenners) die ingewikkeldheid daarvan in veelvuldige bladsye uiteensit. Hy wys ook daarop dat die twee elemente van bedrog wat in die definisie weergegee word, naamlik “unlawful” en “intentional”, nêrens deur die eiser (US) in die universiteit se Besonderhede van Vordering gebruik word nie. “Nietemin ag Rapport homself bevoeg om as ? feit aan te voer dat die Universiteit bedrog beweer in sy Besonderhede van Vordering, wat absoluut ongegrond is,” sê hy.

Die prokureur sê die US se siviele saak word hoegenaamd nie op bedrog gebaseer nie. Hy sê die totale eis van die universiteit en elke grond waarop die instelling steun, word saamgevat in paragraaf 31 van die Besonderhede van Eis, wat soos volg lees:

“Roux’s conduct as aforesaid constituted breaches of his contract of employment, more particularly breaches of the Statute (US se Statuut), the principles of financial management, his duty to act in good faith and the fiduciary duty he owed to the University.” 

Hieruit lei hy af, “Geeneen van hierdie gronde verteenwoordig bedrog nie en geen bedrog word ook hoegenaamd in die Universiteit se Besonderhede van Eis beweer nie.”

Gevolgtrekkings

Erasmus bestempel Rapport se “verskoning” dat die berig nie sê dat Roux strafregelik van bedrog aangekla is nie, terwyl dieselfde storie berig dat hy eersdaags in die hof moet verskyn, as “power”.

Hy voer aan dat die betrokke stelling in die berig geen onderskeid tussen die siviele en strafregtelike sake maak nie, anders as wat Rapport aanvoer. Hy voeg by, “Selfs indien sodanige onderskeid wel getref word (wat ontken word) is die stelling steeds totaal onwaar.”

Oor die twee sake sê die prokureur:

·         Strafregtelik: Roux is nie in hegtenis geneem nie en hy is ook nie aangekla nie – “dus is daar nie sprake dat hy eersdaags in die hof moet verskyn nie”;

·         Siviel: Daar is nog geen hofdatum toegeken nie en met inagneming van die huidige hofrol is dit onwaarskynlik dat dit binne die volgende twee jaar sal geskied.

Hy kom tot die gevolgtrekking dat die stelling dat Roux eersdaags in die hof moet verskyn ? wanvoorstelling is, soos ook die stelling dat dit moet gebeur om op bewerings van bedrog te antwoord, en dat die US bedrogklagtes teen hom ingedien het.

Erasmus verwerp ook Rapport se verduideliking oor die stelling dat Roux se kontrak – te midde van die bedrogbewerings in 2014 – met vyf jaar verleng is. Hy voer aan dat die:

·         US nie Roux se naam in die persverklaring genoem het nie en boonop bloot na ? “redelike vermoede” verwys het; en

·         Polisie nie in 2013 met ? bedrog-ondersoek begin het nie (soos hierbo verduidelik).

Oor Wichmann se verwysing na die Valke, sê Erasmus dat Rapport op 2 Mei vanjaar probeer het om by ? woordvoerder van die Valke die bewoording te bekom van die aanmelding van die klagte teen Roux. Hy sê, “Dit is mosterd na die maal en gedoen in die hoop om ? berig wat reeds op 16 April 2017 gepubliseer is, te regverdig. Die woordvoerder het nagelaat om die bewoording te verstrek en het aangedui dat die klagte verband hou met bedrogklagtes. ? Skrywe wat aan die woordvoerder gerig is op 17 Mei 2017 om duidelikheid te verskaf oor die sogenaamde klagte, word deur die woordvoerder geÏgnoreer ondanks herhaaldelike opvolgskrywes.”

Hy vra hierdie kantoor om ? verskoning en ? regstelling, met die nodige prominensie, te gelas.   

Ek het die volgende dokument aan die partye gestuur ter voorbereiding van ons gesprek:

OORWEGINGS

Eerste sin in dispuut

‘[Roux] moet ... in die hof op bewerings van bedrog antwoord’

Hierdie stelling kom in die inleidende sin voor.

Uit die sin self is dit nie duidelik of hierdie hof-“antwoord” na ‘n kriminele klag of na ‘n siviele eis verwys het nie – dit sou die leser slegs uit die konteks kon agterkom.

My aandag verskuif dus nou na die res van die berig.

Ná die inleidende sin handel die volgende agt paragrawe oor Saru, waarna dit na Roux terugkeer – waar die “bewerings” van bedrog in die eerste sin nou na “bedrogklagte” verander – wat suggereer dat die verwysing na bedrog oor ‘n kriminele saak gaan (in ‘n siviele saak word ‘n eis ingestel, terwyl ‘n klag in ‘n kriminele saak gelê word).

Ek kom later hierop terug.

Die Valke-woordvoerder kom dan aan die beurt, wat sê die saak is nog hangende en bykomende inligting word nog benodig.

Dan word dit duidelik waarna die voorafgaande verwys het – die volgende sin lui: “Dan is daar nog die universiteit se siviele eis van R52 miljoen teen Roux.”

Die woorde “dan is daar nog” kon redelikerwys net een ding beteken – die voorafgaande kon, en het, nie na ‘n siviele saak verwys nie. Die suggestie van die tweede sin, en die vaagheid van die eerste, word hiermee opgelos.

Dit is dus die probleem: Die enigste logiese afleiding wat die redelike leser oor die vaagheid van die inleidende sin kon maak, is dat dit na ‘n kriminele saak verwys het – wat presies is wat Rapport níé bedoel het om te sê nie.

Om daardie rede is die koerant ‘n verduideliking in hierdie verband aan die publiek, met spesiale verwysing na Roux, verskuldig.

Die volgende vraag is of Rapport geregverdig was om te beweer dat die siviele saak (waarna die eerste sin volgens Rapport verwys het, en waaroor die res van hierdie onderafdeling handel) “bewerings van bedrog” bevat het.

Eerstens, die woord “bedrog” kom nie in die siviele eis voor nie. Daar word wel onder meer aangevoer dat Roux fondse wan-voorgestel (“misrepresented”) en wan-aangewend (“misapplied”) of verskuif het – en in dié proses kontrakbreuk gepleeg en teenstrydig met die universiteit se beleid en beginsels opgetree het. Dit het klaarblyklik nie hier om persoonlike gewin gegaan nie.

Rapport argumenteer egter dat die aard van die eis teen Roux wel op bewerings van bedrog neergekom het (waarvan Erasmus natuurlik verskil). Scholtz voer onder meer aan dat die KPMG-verslag as basis vir sowel die kriminele as die siviele saak gedien het; die argument is dan dat, as die een na bedrog verwys het, dit ook vir die ander moes geld.

Ek is nie oortuig dat hierdie argument waterdig is nie. Dit is egter nie vir my om te besluit nie; dit laat ek aan die hof oor.

Die koerant, meen ek, moes veiligheidshalwe dieselfde gedoen het.

Laat ek egter hierdie stelling kwalifiseer: Indien Rapport wel die bewerings in die eis as “bewerings van bedrog” wou interpreteer, kon die koerant dit wel doen – maar dan moes dit duidelik wees dat dit die publikasie se interpretasie, of afleiding, was.

Dit is altyd gevaarlik om ‘n interpretasie as ‘n feit te stel. In hierdie geval was daar wel bewerings (reg, dis ‘n feit!), maar of dit bewerings van “bedrog” was (is dit regtig ‘n feit?), is ‘n ander saak.

‘[Roux] moet eersdaags (in die hof ... antwoord)’

Rapport verduidelik die “eersdaags” was gegrond op US se prokureurs wat gesê het hulle wag nog net op ‘n hofdatum (voor die hofsaak oor die siviele eis kon begin); die koerant voer ook aan dat die storie wel vir Erasmus aangehaal het dat dit “tot twee jaar” kon neem om ‘n hofdatum te kry.

Laasgenoemde het ook in ons gesprek verduidelik dat alle siviele eise eers ‘n voor-verhoor moet hê, waar vasgestel word of alle dokumente in orde is. Hierdie voor-verhoor vind op 23 Augustus vanjaar plaas, waarna ‘n hofdatum eers bepaal kan word – wat ‘n verdere twee jaar kan neem.

As US se prokureurs ‘n aanduiding van tyd gegee het, het die joernalis dit goed gedink om dit nie te noem nie.

Ek vind dit daarom moeilik om te verstaan hoe die joernalis die gebruik van die woord “eersdaags” kon regverdig.

Scholtz het laat val dat hy nie meen die gebruik van hierdie woord was so belangrik nie. Dit was – ek maak hieronder ‘n opmerking daaroor.

Ek neem ook in ag dat Erasmus se verduideliking van “twee jaar” in die laaste sin van die artikel voorkom, terwyl die woord “eersdaags” in die inleidende sin was; nie almal wat die “eersdaags” gelees het, sou ook by die “twee jaar” uitgekom het nie.

Tweede sin in dispuut

Die Universiteit Stellenbosch ... het bedrogklagte teen [Roux] ingedien’

Ek het reeds hierbo na hierdie sin verwys (binne die konteks van die res van die storie); dit kom nou self onder die vergrootglas.

Volgens my interpretasie, sowel as Rapport se eie getuienis, gaan hierdie verwysing om die kriminele saak teen Roux.

Twee kwessies is hier in dispuut, naamlik die vraag of:

·         die US se aanmelding van die saak by die Polisie as ‘n “klag” beskryf kan word; en

·         dit in die saak om bedrog gaan.

Daar is konsensus oor die feit dat die US wel bevindinge in 'n KPMG-ouditverslag, waarin Roux betrek is, ingevolge 'n wetlike verpligting by die polisie aangemeld het, en dat die saak tans ondersoek word met die oog op ‘n beslissing of Roux vervolg gaan word of nie.

Dit is egter waar die konsensus eindig – Erasumus sê nee, die aanmelding is nie dieselfde as die lê van ‘n klag van bedrog nie; Rapport sê ja, dit is.

Verskeie faktore kom hier ter sprake.

Eerstens, die US se prokureurs (Werksmans) bevestig op 13 November 2013 dat die universiteit nie van voorneme is om “kriminele aanklagte” teen Roux by die polisie aanhangig te maak nie.

Wetlik verplig daartoe, meld die US wel die saak op 19 November by die polisie se handelsmisdaadeenheid (ingevolge artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede 12 van 2004) aan.

Op 20 November motiveer Werksmans hierdie optrede “op grond van die regsplig wat op [die US] rus om ? redelike vermoede dat ? misdryf van diefstal, bedrog, afpersing, vervalsing of uitgifte van ? vervalste dokument gepleeg is waarby ? bedrag van R100 000 of meer betrokke is aan te meld”.

Dit is nie net belangrik om te let op wat in hierdie twee skrywes gesê word nie, maar ook wat daar níé gesê word nie. As die tweede skrywe naamlik die eerste een moes negeer of vervang, en in die plek daarvan ‘n nuwe beslissing wou aankondig, sou Werksmans dit sekerlik gedoen het. Dit word egter nie gesê nie. Daar word boonop niks aangevoer wat in stryd was met die eerste korrespondensie nie.

Daarom verval die eerste skrywe nie, maar moet dit sáám, in konteks met mekaar, gelees word. Dit beteken dit is redelik om te aanvaar dat die US by sy besluit staan dat hy nie ‘n kriminele klag teen Roux aanhangig wou maak nie, en dat hy bloot die saak by die polisie “aangemeld” het ingevolge die regsverpligting wat artikel 34 van die betrokke wet op die universiteit geplaas het.

Art. 34 praat spesifiek van ‘n “redelike vermoede” (van onder meer bedrog).

‘n Ander faktor is die feit dat die polisie ‘n CAS-nommer uitgereik het. Rapport voer aan dit beteken dat ‘n amptelike klag by die polisie ingedien is; die US word boonop as’n “klaer” in die saak beskryf.

Ek aanvaar dat die gebruik van die woord “bedrog” in hierdie sin geregverdig was, aangesien die US self, in ‘n amptelike skrywe, dit so gestel het. As dit om die een of ander rede verkeerd was, was dit nie Rapport se skuld nie. (Op 19 November 2013 skryf die US “there was a reasonable suspicion that an offence related to fraud had been committed” – my beklemtoning.)

Die sentrale vraag nou is of dit korrek is om te sê dat Roux op ‘n aanklag van bedrog teregstaan.

Vir die oningeligte kan dit soos haarklowery klink, maar dit is nie die geval nie – nie as jou naam “Jurie Roux” is nie.

Ná vele oorweging lyk dit vir my korrek om te sê dat Roux onderworpe is aan ‘n ondersoek van die polisie oor ‘n redelike vermoede van bedrog, soos deur die US aangemeld – wat, hangende die uitslag van die ondersoek, tot ‘n aanklag van bedrog teen hom kan lei.

Die stelling in die storie, naamlik dat die US bedrogklagte teen Roux ingedien het, is daarom tegnies verkeerd.

Derde sin in dispuut

‘[Roux se] kontrak is te midde van die bedrogbewerings in 2014 met vyf jaar verleng’

Die sin self lewer geen probleme op nie omdat daar wel bewerings van bedrog (lees: ‘n redelike vermoede van bedrog) teen Roux gemaak is; die konteks waarin dit gelees word, doen dit wel.

Hier verwys ek spesifiek na die stelling dat Roux “eersdaags” in die hof “moet” antwoord. Dit plaas sekerlik ‘n vraagteken agter sy heraanstelling – Saru het ‘n man her-aangestel wat “eersdaags” in die hof antwoorde oor bewerings van bedrog moes verskyn.

Kortom: As daar geen probleme was met die konteks nie, was hierdie sin heeltemal in orde. Ek gaan daarom nie aan dié sin torring nie – ‘n regstelling wat betref die konteks sal genoegsaam wees.

KWESSIES WAT TER SPRAKE MOET KOM

Eerste sin in dispuut

‘[Roux] moet ... in die hof op bewerings van bedrog antwoord’

Rapport moet verduidelik dat:

·         hierdie stelling met die siviele eis teen Roux te make gehad het, en nie met ‘n kriminele saak nie; en

·         die verwysing na bedrog nie in die siviele eis voorkom nie, maar dat dit die koerant se interpretasie daarvan is (wat deur Roux betwis word)

‘[Roux] moet eersdaags (in die hof ... antwoord)’                                                                             

Rapport moet erken dat die woorde “moet eersdaags” (in die hof antwoord) nie geregverdig was nie, en moet rapporteer dat die proses van ‘n voor-verhoor (op 23 Augustus) en die vasstelling van ‘n hofdatum daarna (wat nog tot twee jaar kan duur) nog voorlê.

Tweede sin in dispuut

Die Universiteit Stellenbosch ... het bedrogklagte teen [Roux] ingedien’

Rapport moet skryf dat hierdie stelling tegnies verkeerd was. Die huidige stand van sake is dat Roux onderworpe is aan ‘n ondersoek van die polisie oor ‘n redelike vermoede van bedrog, soos deur die US aangemeld – wat, hangende die uitslag van die ondersoek, tot ‘n aanklag van bedrog teen hom kan lei (of nie).

Derde sin in dispuut

Omdat bogenoemde reggestel word, hoef hierdie sin nie ter sprake te kom nie.


KONSENSUS

Ek het ook ‘n konsensus-teks voorgestel, wat effe verander is om soos volg te lui (wat deur alle partye aanvaar is):

Rapport het vroeër berig dat die Universiteit Stellenbosch (US) bedrogklagte teen Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie en voormalige US-werknemer, ingedien het.

Ons het in dieselfde berig (Als op Jurie se skouers, gepubliseer op 16 April) ook geskryf dat hy “eersdaags” in die hof op bewerings van bedrog moes antwoord.

Roux het die saak by die Persombud aanhangig gemaak, wat onder meer bevind het dat dié berig nie genoegsaam tussen ‘n siviele eis en ‘n kriminele saak teen Roux onderskei het nie, wat tot misverstande aanleiding kon gegee het.

Rapport stel hiermee graag die feitelike posisie:

·         Roux staan nie tans tereg op ‘n kriminele aanklag van bedrog nie;

·         Hy is wel onderworpe aan ‘n kriminele ondersoek van die polisie oor ‘n redelike vermoede van bedrog, soos deur die US kragtens ‘n wetlike verpligting aangemeld;

·          Die uitslag van hierdie ondersoek sal bepaal of hy van bedrog aangekla gaan word of nie;

·         Die siviele eis teen hom gebruik nie die woord "bedrog" nie. Die universiteit se bewering lui: “Roux het die universiteit se rekenkundige rekords wanvoorgestel en haar bates verkeerd aangewend, wat tot gevolg gehad het dat die universiteit vermoënskade gely het.” Die bewering word deur Roux ontken. Die woord “bedrog” was Rapport se interpretasie en word deur Roux betwis; en

·         Sy verskyning in die hof het met die siviele eis te make, nie met ‘n kriminele saak nie.

Die stelling dat Roux “eersdaags” in die hof moes antwoord, was ook nie korrek nie. Sy prokureur sê die siviele eis kan nog tot twee jaar duur.

Ons vra om verskoning vir enige verwarring en ongerief wat deur hierdie berig kon ontstaan het.

Die saak word hiermee afgesluit.

Johan Retief

Persombud