Skip to main content

Bertus le Roux vs. Volksblad


Thu, Feb 5, 2015

Bevinding deur die Persombudsman

5 Februarie 2014

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van Mr Bertus le Roux en dié van Gert Coetzee, waarnemende redakteur van Volksblad.

Klag

Le Roux kla oor ? storie op die voorblad van Volksblad, gepubliseer op 23 Januarie 2015 onder die opskrif Brandfort eersdaags spookdorp – Inwoners sien rooi oor dienste.

Hy sê dat die hoofopskrif asook die onderskrif by die foto op bladsy 2 misleidend en verkeerd is.

Die storie

Die artikel, geskryf deur Marietjie Gericke, sê Brandforters is in opstand omdat hul dorp ? spookdorp word weens swak dienslewering. Ontevrede inwoners beplan na berig word ? optog na die kantoor van die munisipale bestuurder om hom oor die situasie te konfronteer. Me. Melanie Venter, DA-raadslid, het gesê die doel van die optog is om te keer dat Brandfort ? spookdorp word. Daar is glo reeds sowat 80 huise in die mark. Verskeie voorbeelde van swak dienslewering word ook opgenoem.

Ontleding

Opskrif

Die hoofopskrif lui: Brandfort eersdaags spookdorp

Le Roux sê die woord “eersdaags” beteken dat iets binnkort sal plaasvind; “spookdorp” veronderstel dat die dorp tot stilstand kom, met geen verdere aktiwiteite nie. Die indruk dat Brandfort beslis ? spookdorp sal word, is misleidend, nie ? feitlike stelling nie en daarom ongegrond.

Coetzee sê die woord “spookdorp” kom van ? plaaslike raadsverteenwoordiger wat in die berig aangehaal word.

                                    My oorwegings

Die Perskode bepaal dat ? opskrif ? redelike weerspieëling van die inhoud van die storie moet wees.

Die storie sê Brandforters is in opstand “omdat hul dorp ? spookdorp word weens vrot dienslewering” (eie beklemtoning). Dit impliseer dat die dorp nog nie op daardie punt is nie.

Die DA-raadslid word ook aangehaal dat sy sê die doel van die optog is om te keer dat dit gebeur. Die implikasie hiervan is dieselfde.

Die opskrif gaan egter verder – dit stel ? moontlikheid as ? feit. Dit is onbillik, al is die moontlikheid dat Brandfort ? spookdorp kan word ook hoe sterk – in die lig van die swak toestand van die paaie en kragvoorsiening (die koerant het verskeie foto’s in hierdie verband aan my gestuur), asook die sowat 80 huise wat in die mark is in ? relatief klein dorp.

Al was daar ook ? gebrek aan ruimte in die koerant, kon ? vraagteken aan die einde van die kop ? groot verskil gemaak het, of die gebruik van die woord “dalk”, of straks aanhalingstekens.

Ek vind geen fout met die inhoud van die storie nie, omdat Gericke dit slegs as ? (sterk) moontlikheid stel dat Brandfort ? spookdorp kan word. Dit, meen ek, was redelike beriggewing, asook in die openbare belang.

Onderskrif

Die onderskrif by die foto op bladsy 2 lui: “Teerstrate in Brandfort is meestal so gehawend dat dit opgeskraap en grondstrate van gemaak moet word.”

Le Roux sê hy woon al 14 jaar op Brandfort en geen teerpad is nog ooit opgeskraap nie. “Die munisipaliteit, sowel as alle inwoners sal dit bevestig.” Hy vra dat die joernalis bewys lewer van hierdie stelling.

Coetzee sê Gericke het haar waarneming ingespan oor die wantoestand van die straat wat dit onwenslik maak om net gelap te word.

                                    My oorwegings

Ek let op dat Le Roux, in sy klag, die woord “moet” uit die onderskrif haal. Dit maak die wêreld se verskil, omdat die gebruik van daardie woord ? gewaande stelling (soos Le Roux dit het) in ? veronderstelling verander – die sin sê nie dat die teerpaaie opgeskraap is nie, maar dat dit opgeskraap moet word.

Hierdie veronderstelling is redelik, vanweë die toestand van sommige van die paaie.

Bevinding

Die storie verbreek nie die Perskode nie.

Die hoofopskrif verbreek Art. 10.1 van die Kode, wat bepaal dat opskrifte ? redelike weerspieëling van die inhoud van die storie moet wees.

Die onderskrif verbreek nie die Perskode nie.

Erns van oortreding

Ek neem in ag dat die opskrif die dorp moonlik onnodige skade kon berokken het, en dat dit daarom ? Vlak 2 oortreding is (? ernstige verbreking van die Perskode).

Optrede

Volksblad word versoek om, op die voorblad, verskoning aan te teken omdat die opskrif dit as ? feit gestel het dat Brandfort ? spookdorp gaan word. Dit staan die koerant vry om te noem dat sommige dele van die klag van die hand gewys is.

Die koerant word gevra om die berig voor publikasie aan die Persombudsman beskikbaar te stel.

Gebruik asseblief die volgende sin aan die einde van die teks: “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.”

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman