Skip to main content

Carel van Heerden vs. Beeld


Tue, Feb 24, 2015

Bevinding deur die Persombudsman

24 Februarie 2015

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Carel van Heerden en dié van Marga Ley, Beeld se interne ombudsman.

Klag

Mnr. Van Heerden kla oor ‘n storie in Beeld, gepubliseer op 19 Februarie 2015, onder die opskrif ‘Verkragter’ se teenwoordigheid pla sy nuwe skool.

Hy kla dat die opskrif na een van die seuns (15, ‘n beskuldigde) as ‘n “verkragter” verwys  – terwyl daar nog geen bewys is oor die seun se betrokkendheid by die voorval nie.

Hy sê die gebruik van die woord “verkragter” het die seun se reg tot 'n billike verhoor en sy menswaardigheid geskend, al is die woord ook in aanhalingstekens gebruik. “Beeld se opskrif is spesifiek gebruik om die seun te verneder en om sensasie te wek. Dis onsensitief en uiters swak joernalistiek.”

Die teks

Die storie gaan oor ‘n voorval waarby ‘n seun in 'n skoolkoshuis van die Landbouskool op Jan Kempdorp na bewering verkrag is. Die vyftien-jarige is na berig word saam met drie ander seuns uit die skool geskors hangende ‘n interne ondersoek. Hulle het reeds in die hof verskyn op aanklagte van verkragting en aanranding, en is op borgtog vrygelaat.

Argumente

Ley sê die woord “verkragter” in die opskrif is in aanhalingstekens gebruik om aan te dui dat dit nog net ‘n bewering is. “Dit blyk ook…duidelik uit die res van die berig.”

Sy verwys na ‘n vorige bevinding van my oor die opskrif van 'n berig oor die sogenaamde monster van Springs, waarin ek geskryf het: “The use of the word ‘monster’ without inverted commas in the headlines, thus stating as fact that this man is guilty, is in breach of the following Sections of the Press Code: 2.1: ‘The press shall take care to report news truthfully, accurately and fairly’; and 10.1: ‘Headlines…shall give a reasonable reflection of the contents of the report…in question. The simple use of inverted commas, as was indeed done in one instance, would have solved this problem’.”

Van Heerden reageer hierop soos volg: “Hier gebruik die koerant slegs een [aanhalingsteken] en dit is duidelik gedoen om die woord verkragter te laat uitstaan.”

Hy sê om na enige mens as ‘n “verkragter” in ‘n koerant opskrif te verwys sonder dat hy skuldig bevind is in ‘n hof, is in stryd met die beginsel dat jy onskuldig is totdat jy skuldig bevind is. “Die aanhalingstekens soos gebruik deur die koerant…skep geensins die indruk dat die seun ‘n ‘beweerde verkragter’ is nie. Dit is duidelik dat die koerant dit doen om die mens te verneder… Hierdie geval verskil in elk geval van die ‘monster’-berig deurdat jy nie aangekla kan word vir ‘n ‘monster’ nie.”

My oorgewings

Oor die algemeen word aanhalingstekens in ‘n opskrif gebruik om een van twee sake aan te dui – óf dit haal iemand aan, soos in die storie vermeld; óf dit word gebruik om te sê dat dit in daardie stadium ‘n bewering is, en nie ‘n feit nie.

In hierdie geval geld die tweede alternatief. Daar is geen fout met so ‘n gebruik nie.

Dit is ook standaard-gebruik om slegs enkel-aanhalingstekens in ‘n opskrif te gebruik, en nie dubbel-aanhalingstekens nie. Dit is om plek te bespaar, en word wêreldwyd so gebruik.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman