Skip to main content

Coen Vermaak vs. Saturday Star


Wed, Feb 29, 2012

Bevinding van die Adjunk- Persombudsman

12 Julie 2010
 
Hierdie bevinding is gebaseer op die geskrewe voorleggings van mnr. C. Vermaak en Saturday Star.
 
Klag
 
Mnr. Coen Vermaak, leier van Die Boerestaat Party, kla oor ‘n voorblad-berig in Saturday Star, gepubliseer op 10 April 2010 onder die opskrif ET murder sex riddle – Bombshell revelations expected in court.
 
Luidens die klag is die volgende drie sinne leuens of ‘n verdraaiing van die waarheid nogtans word dit nie as gerugte nie, maar as feite aangebied:
  • “But, now it appears that Terre’Blanche might not have been the victim of a racist killing, but rather involved in a homosexual relationship with one of the men, Chris Mahlanga, 27, and a 15 year old minor, who are suspected of his murder.”
  • “Police…found a used condom at the scene…”
  • “Police placed the condom and its contents in a crime kit, which has been sent to the forensic unit in Pretoria for analysis, and will reveal the identity of Terre’Blanche’s sexual partner.”
Hy kla ook dat die berig op naamskending neerkom.
 
Analise
 
Die storie gaan oor ‘n nuwe rede wat aangevoer word vir die dood van AWB-leier Eugene Terre’Blanche – nie rassisme of die nie-betaling van lone soos vantevore wyd gespekuleer is nie, maar wel ‘n homoseksuele verhouding met die twee verdagtes.
 
Ons kyk nou na die meriete van die klag:
 
Die drie sinne
 
Volgens die klag is die sinne in dispuut onwaar – tog word dit as feite (en nie gerugte nie) in die storie aangebied.
 
Voor ons die drie sinne bespreek, laat die volgende eers duidelik wees: Die vraag of die gewraakte sinne waar of vals is (die eerste deel van die klag), kan nie hier beantwoord word nie – dit is vir die hof om daaroor te besluit. Wat egter wel ter sake is, is die tweede deel van die klag, naamlik dat gerugte as feite aangebied word.
 
Dit is uit híédie perspektief dat ons nou na elkeen van die sinne kyk:
 
“But, now it appears that Terre’Blanche might not have been the victim of a racist killing, but rather involved in a homosexual relationship with one of the men, Chris Mahlanga, 27, and a 15 year old minor, who are suspected of his murder.”
 
Die woorde “it appears” kan op twee maniere verstaan word – dit kan “dit blyk” of “dit lyk” beteken. Eersgenoemde is ‘n sterker konstruksie en stel die saak as ‘n feit; laasgenoemde is sagter, wat ruimte laat vir ander moontlikhede.
 
Die vraag watter een van die twee moontlikhede hier bedoel word, kan straks beantwoord word deur die gebruik van die woorde “kan dalk nie” (“might not have been”) in dieselfde sin. Hierdie bewoording is duidelik versigtig gekies – dit stel dit nie as ‘n feit dat daar ‘n homoseksuele verhouding was nie, maar as ‘n moontlikheid.
 
Daarom is dit redelik om te aanvaar dat die vertaling “dit lyk” die regte een is en dat hierdie sin daarom nie die homoseksuele verhouding as ‘n onomstootlike feit stel nie.
 
“Police…found a used condom at the scene…”
 
Saturday Star sê in sy verweer dat dit nog nie seker (lees: bewys) is of die gerug oor die kondoom waar is of nie – daardie inligting is egter van ‘n uiters geloofwaardige bron bekom (sy identiteit is vertroulik aan my bekendgemaak) en boonop is dit deur ‘n tweede bron bevestig. Die koerant voeg by dat die berig duidelik sê dat dit die inligting tot sy beskikking was (“…did make it clear in the story that this was received information.”)
 
Die berig sê dit egter nie duidelik nie – daar is geen verwysing na ‘n bron nie. Daar staan nie dat die Polisie gesê het dat hulle ‘n gebruikte kondoom op die toneel gevind het nie – die sin lui: “Police…found a used condom at the scene.”
 
Daar is ook geen verwysing na ‘n tweede bron nie. As die koerant sy inligting geverifieer het, het hy nagelaat om dit te noem.
 
Die sin in dispuut word inderdaad as ‘n feit gestel, sonder enige verwysing na ‘n bron of na verifikasie.
 
“Police placed the condom and its contents in a crime kit, which has been sent to the forensic unit in Pretoria for analysis, and will reveal the identity of Terre’Blanche’s sexual partner.”
 
Die tweede deel van bogenoemde sin is hier ter sprake, naamlik “…and will reveal the identity of Terre’Blanche’s sexual partner.”
 
Weer eens word hierdie frase nie aan ‘n bron toegeskryf of geverifieer nie, maar word as ‘n feit (nie ‘n moontlikheid nie) sonder kwalifikasie gestel – Terre’Blanche hét ‘n homoseksuele vriend gehad en die identeiteit van daardie vriend sál onthul word.
 
Naamskending
 
Die koerant verwerp die klag oor naamskending “omdat ‘n dooie mens kan nie belaster word nie”.
 
Oor die algemeen is dit natuurlik waar – die wet oor laster gaan oor die beskerming van ‘n (lewende) persoon se belange deur sy of haar goeie naam en reputasie te bewaar. ‘n Dooie persoon het nie meer belange nie.
 
‘n Internet-soektog het talle voorbeelde opgelewer wat die koerant se standpunt staaf.
 
Let egter daarop dat ‘n valse stelling oor ‘n dooie mens wel ‘n lewende mens kan belaster.
 
Toegepas op hierdie klag: Die beriggewing sou moonlik laster of naamskending kon wees – maar dan teenoor die twee verdagtes (wat van ‘n homoseksuele verhouding beskuldig word) en nie teenoor Terre’Blanche se familie of die Boerestaat Party nie. Dit beteken dat, sou die bewering onwaar wees (‘n mens kan nie iemand met die waarheid belaster nie), die verdagtes moontlik ‘n saak van naamskending kon ingedien het.
 
Bevinding
 
Die eerste sin
 
Die klag word weens versigtige woordgebruik van die hand gewys.
 
Die tweede sin
 
Dit word sonder kwalifikasie as ‘n feit aangebied, sonder om na ‘n bron te verwys. Dit verbreek dus Art. 1.2.2 van die Perskode: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur …wesenlike weglatings…”
 
Dit verbreek ook Art. 1.4 van die Kode omdat geen poging aangewend is om die stelling te verifieer nie: “Wanneer daar rede is om die akkuraatheid van ‘n berig te betwyfel en dit prakties haalbaar is om die akkuraatheid daarvan te verifieer, sal dit geverifieer word. Wanneer dit nie prakties haalbaar is om die akkuraatheid van ‘n berig te verifieer nie, sal dit in so ‘n berig genoem word.”
 
Die derde sin
 
Dit word sonder kwalifisering as ‘n feit aangebied dat dat Terre’Blanche ‘n homoseksuele vriend gehad het en dat die identiteit van daardie vriend onthul sal word – weer eens sonder om na ‘n bron te verwys of dit te verifieer. Dit verbreek dus ook Art. 1.2.2 en Art. 1.4 van die Perskode.
 
Naamskending
 
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
 
Sanksie
 
Saturday Star word berispe en versoek om ‘n opsomming van hierdie bevinding op sy voorblad te publiseer. Die teks moet voor publikasie aan ons kantoor beskikbaar gestel word.
 
Appèl
 
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
 
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman