Skip to main content

Dan Roodt vs Sondag


Fri, Apr 20, 2012

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman
 
20 April 2012

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van dr. Dan Roodt, bekende skrywer en direkteur van Praag, en die Sondag koerant.

Klag

Dr. Dan Roodt kla oor ‘n storie in Sondag wat op 3 Maart 2012 onder die opskrif Spyker vir die volk! – Praag-skrywer wil nasie laat oorleef gepubliseer en deur Scoop Cloete geskryf is.

Hy kla dat die storie verkeerdelik die indruk skep dat hy persoonlik by ‘n pornografiese webwerf betrokke is en/of dat dit sy goedkeuring sou wegdra.

Ontleding

Die eerste sin van die storie som die inhoud daarvan goed op. Dit lui: “Die Pro Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) wil die voortbestaan van Afrikaans verseker DEUR DIE VOLK TE LAAT SPYKER – VIR VOLK EN VADERLAND!” Die storie sê dat “een van hulle” (m.a.w. ‘n lid van Praag) ‘n seks-webwerf gestig het wat mense aanmoedig “om stoute goed” met mekaar aan te vang. Dié persoon, mnr. Anton Barnard, is na berig word ‘n “vurige rubriekskrywer” van Praag en een van Roodt se “handlangers”.

Ek  kyk nou na die meriete van die klag:

Persoonlik betrokke; goedkeuring

Roodt kla dat die storie verkeerdelik suggereer dat hy of Praag ‘n pornografiese webwerf bedryf – ‘n webwerf waarop die naam van ‘n onafhanklike rubriekskrywer op die Praag-webwerf “oënskynlik” verskyn (Barnard) en waarvan hy moontlik die eienaar kan wees. Hy ontken kategories dat hy iets met die seks-webwerf te doen het – “nietemin skep Sondag die indruk dat ek persoonlik by so iets betrokke sou wees of dat dit my goedkeuring sou wegdra”.

Toe ek die klag aan Sondag gestuur het, wou ek weet op grond waarvan die joernalis die seks-webwerf met Roodt verbind het, en of die koerant saamstem dat die berig die indruk skep dat Roodt daarby betrokke is en/of dat dit sy goedkeuring sou wegdra.

In antwoord op my eerste vraag sê Sondag:
  • dat Roodt nie Barnard se verbintenis met Praag betwis nie;
  • dis nie die koerant wat Barnard met Roodt verbind nie, maar Barnard en in ‘n mate Roodt self – laasgenoemde het Cloete se navraag na Barnard verwys, wat dit duidelik gemaak het dat hy namens Roodt praat; en
  • die berig maak bogenoemde duidelik deur Barnard regstreeks aan te haal: “Om jou vraag aan Dan te beantwoord…”
 

Sondag ontken ook dat die berig die indruk skep dat Roodt daarby betrokke is en/of dat dit sy goedkeuring sou wegdra en noem so ‘n interpretasie “oorsensitief en ‘n verdraaiing van die berig”. Die koerant verwys na die sin wat lui: “Nou het een van hulle (Praag se mense) dinge skynbaar na ‘n heeltemal ander level gevat deur…”

 

In sy reaksie op Sondag se verweer sê Roodt onder meer dat:

  • ‘n koerant wat hom gewoonlik met skandale en taamlike kru verhale besig hou, nie kan verwag dat ‘n mens altyd vir kommentaar beskikbaar moet wees nie “aangesien ‘n mens by voorbaat skepties oor die integriteit en bedoelings van sy joernaliste is”;
  • Barnard wel ‘n “verbintenis” met Praag het (as vryskut-rubriekskrywer), maar voeg by dat die teks wat hy lewer, niks met seksontmoetings of ‘n gewenste bevolkingsaanwas te make het nie; en
  • Barnard nie die reg gehad het om namens hom te praat nie en dat hy (Barnard) dit ook nie met hom (Roodt) uitgeklaar het nie.

Ek sal eers die koerant se verweer puntsgewys behandel, waarna ek ander oorwegings sal aanvoer.

Dit is niksseggend dat Roodt nie Barnard se verbintenis met Praag betwis nie. Die feit dat Barnard vryskut-bydraes vir Praag lewer, beteken tog hoegenaamd nie noodwendig dat Roodt met die seks-webwerf verbind kan word nie.

 

Die koerant se argument dat dit Barnard en in ‘n mate Roodt self is wat hulle met mekaar verbind, gaan ook nie op nie – weer eens, ‘n “verbintenis” beteken nie noodwendig dat alle aktiwiteite van albei aan albei toegeskryf kan word nie. Die feit dat Roodt Sondag se navraag na Barnard verwys het, is boonop logies – ek sou dit ook gedoen het as ek in Roodt se skoene was. Hierdie “verwysing” beteken nie per definisie dat Barnard dan namens my sou kon praat nie; dit kan eerder beteken dat ek niks met die saak te doen het en te doen wil hê nie en dat die betrokkene self vir sy dade pa moet staan.

Die argument dat Barnard dit duidelik gemaak het dat hy namens Roodt praat, is ewe swak. Barnard is immers ‘n vryskut-rubriekskrywer, wat per definisie nie namens Praag kan praat nie. Die joernalis moes dit tog geweet het.

Laat ek die situasie omkeer en die skoen aan die ander voet sit: Sê nou maar Barnard was ‘n vryskut-skrywer van Sondag, hoe sou dié koerant gevoel en gereageer het as ‘n ander publikasie hom met die seks-webwerf verbind bloot omdat Barnard vryskut-bydraes aan Sondag lewer (my argument oor “verbind” volg)? En as Barnard boonop namens Sondag sou praat?

 

Die koerant se verweer dat die berig Barnard namens Roodt aanhaal (“Om jou vraag aan Dan te beantwoord…”), is om bogenoemde rede ook nie aanvaarbaar nie.

Nou, vir ‘n breër kyk op sake. Ek neem ook die volgende in ag:

  • Dis eenvoudig nie waar dat die berig nie vir Roodt by die seks-webwerf betrek nie. Die onderskrif by Roodt se foto lui: “Benoude spronge: Dan Roodt-hulle by Praag wil nou glo die voortbestaan van Afrikaans verseker deur die volk met mekaar te laat teel!” (eie beklemtoning) Roodt en Praag word hierdeur direk met die webwerf verbind. Ek let ook op dat die meervoud (“hulle”) gebruik word;
  • Die eerste sin van die berig lui dat Praag (nie Barnard as vryskut nie) die voortbestaan van Afrikaans wil verseker “deur die volk te laat spyker – vir volk en vaderland”;
  • Die feit dat die webwerf later aan Barnard toegeskryf word, maak bogenoemde nie ongedaan nie; en
  • Die blote gebruik van Roodt se foto versterk my argument.
 

Roodt se “betrokkenheid” by die webwerf (let wel, nie by Barnard nie) is nie in dispuut nie – hy ontken dit kategories, en die koerant dring, ondanks die storie, ook nie daarop aan dat hy wel daarby betrokke is nie (slegs dat hy en Barnard met mekaar geassosieer kan word en dat hy namens Roodt sou gepraat het).

Ek kom daarom tot die volgende gevolgtrekkings:

  • Roodt en Praag het niks met die seks-webwerf te make nie;
  • As Barnard daarby betrokke is, bedryf hy dit in sy persoonlike hoedanigheid; en
  • Die berig skep nogtans die indruk dat Roodt en Praag daarby betrokke is (sien die onderskrif, die inleidende sin van die berig, asook die plasing van Roodt se foto).

Dit kan net een ding beteken – die indruk wat die berig skep, naamlik dat Roodt by ‘n seks-webwerf betrokke sou wees, is vals. 

Dié beriggewing het sekerlik Roodt se openbare beeld onnodige en groot skade berokken. Dit is daarom lasterlik en uiters onbillik teenoor hom.

Ek moet egter byvoeg dat Roodt se houding dat hy nie altyd vir kommentaar teenoor Sondag beskikbaar is nie “aangesien ‘n mens by voorbaat skepties oor die integriteit en bedoelings van sy joernaliste is”, ongelukkig is. Sondag se taal, styl en skopus verskil wel van dié van “ernstige” koerante, maar ek het dit nog nie teengekom dat “integriteit en bedoelings” van “tabloid”-joernaliste minder of swakker as hul kollegas s’n in ander publikasies is nie.

Bevinding

Die storie suggereer verkeerdelik dat Roodt en Praag by ‘n pornografiese webwerf betrokke is of was en dat dit sy goedkeuring sou wegdra.

Dit is in stryd met:

  • die voorwoord tot die Perskode, wat sê dat joernaliste hul verbind om te streef na maksimum-waarheid, asook om onnodige skade te vermy;
  • art. 1.1 van die Kode, wat lui: “Die pers is verplig om nuus waarheidsgetrou, akkuraat en billik te rapporteer”;
  • art. 1.2 van die Kode, wat sê: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite, hetsy deur verdraaiing…of wanvoorstelling…”; en
  • art. 5: “Die pers sal buitengewone sorg en oorweging skenk aan sake waarby mense se waardigheid en reputasie op die spel is…”

Ek bevind dat hierdie berig so ernstig van die Perskode afwyk dat die optrede (hieronder) op die voorblad moet verskyn, hoewel die berig self op bladsy 9 geplaas is.

Optrede
 
Sondag word versoek om Roodt:
  • om verskoning te vra omdat die berig verkeerdelik die indruk skep dat hy persoonlik by ‘n pornografiese webwerf betrokke is en dat dit sy goedkeuring sou wegdra – met die groot en onnodige skade aan sy openbare beeld wat daarmee saamgaan; en
  • se naam, asook die woord “apologie” of “verskoning” in die opskrif te gebruik.

Die koerant word gevra om die volgende teks volledig op sy voorblad te publiseer:

Sondag vra die direkteur van Praag, dr. Dan Roodt, onvoorwaardelik om verskoning omdat ons verkeerdelik die indruk geskep het dat hy persoonlik by ‘n pornografiese webwerf betrokke is en dat dit sy goedkeuring sou wegdra.

Dit kom nadat Roodt ‘n klag by die persombudsman gelê het oor ‘n storie wat ons op 3 Maart gepubliseer het onder die opskrif Spyker vir die volk! – Praag-skrywer wil nasie laat oorleef. Die storie is deur Scoop Cloete geskryf.

Die storie het gegaan oor ‘n seks-webwerf wat Afrikaanssprekendes sou aanmoedig om kinders by mekaar te hê om so die voortbestaan van Afrikaans te verseker. ‘n Vryskut-rubriekskrywer van Praag sou hierdie webwerf bedryf het. Die storie betrek egter ook – verkeerdelik – vir Praag en Roodt direk by dié webwerf.

Adjunk- persombudsman Johan Retief het bevind dat die berig verskeie artikels van die Perskode oortree het, en dat dit groot en onnodige skade aan Roodt en Praag se openbare beeld berokken het. Hy het die berig as “lasterlik” en “uiters onbillik” teenoor Roodt bestempel.

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2012) vir die volledige bevinding.

Einde van teks.
 
Appèl

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

 
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman