Dr Johann Ernst vs. Rapport, Netwerk24


Fri, Sep 7, 2018

Bevinding deur die Persombud

7 September 2018

Besonderhede

Datum van artikel: 24 Junie 2018

Opskrif: Leraars van Centurion – Dominee stuur glo stoute Whatsapp aan lidmaat

Bladsy: 6

Outeur van artikel: Jaco le Roux

Respondent: Alet Wichmann, Rapport se interne ombud

Ontmoeting: Die Ombud het op 6 September met dr. Johann Ernst en Liezel de Lange, besturende redakteur en waarnemende interne ombud, asook Herman Scholtz, nuusredakteur, vergader om onduidelikhede uit die weg te ruim en die saak te probeer skik.

Klag                                            

Ernst kla dat die volgende sin buite konteks, strydig met die korrekte feite (waaroor Rapport en Netwerk24 reeds beskik het), ongeverifieerd en onbillik was: “Ds. Johann Ernst: Voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode en ook voorheen die NG Kerk Doornkloof se predikant. Verlede jaar was hy in die verleentheid toe sy seun die kerkverslaggewer Jean Oosthuizen uitgeskel het met woorde soos moffies, boudkappertjies en p**s.”

Hy kla ook dat Rapport verskeie artikels van die Perskode oortree het, onder meer dat die koerant:

·         hom nie om kommentaar gevra het vóór publikasie nie;

·         kwaadwillig was in sy beriggewing; en

·         hy en sy seun se goeie naam en eer onnodiglik in die gedrang gebring het.

Die teks

Die verwysing, soos hierbo aangehaal in ‘n kassie, verskyn binne die konteks van ‘n aantal artikels wat oor drie ander predikante se beweerde “skandes” gerapporteer het.

Die argumente

Ernst voer onder meer aan:

·         Bandopnames van die gesprekke met Oosthuizen is beskikbaar, waaruit bo redelike twyfel vasgestel kan word dat sy seun, Stephan, nie hierdie woorde gebruik het nie;

·         Netwerk24 het die gewraakte berig op 5 April 2017 gepubliseer;

·         ‘n Ander persoon het sonder toestemming en wederregtelik die oproep van Stephan se selfoon gemaak, in laasgenoemde se afwesigheid;

·         Hierdie persoon sal bogenoemde onder eed verklaar; en

·         Die Gauteng Onderwysdepartement het bevind dat Stephan nie die oproep gemaak het nie.

Ernst ontken ook dat hy in die verleentheid oor hierdie saak was. Hy sê hy het hom destyds dadelik van die feite vergewis en Netwerk24 sonder versuim daaroor ingelig.

Hy bestempel die beriggewing as kwaadwillig en voer aan dat dit “genoeg gronde vir laster, naamskending en bedrog” bied.

Wichmann sê na afloop van ontvangs van die ombudsklag het Rapport erken dat die koerant ongebalanseerd aangehaal het uit die storie wat op Netwerk24 verskyn het, omdat dit nagelaat het om te berig dat Stephan die bewering ontken het.

Sy voeg by dat die kassie wat by die berig verskyn het, ‘n verwysing na vorige beriggewing was, en dat die doel daarvan bloot was om konteks te verskaf.

‘n Regstelling is bo-aan geplaas die aanlyn-weergawe geplaas, voeg sy by.

Hierdie regstelling het egter nog nie in die gedrukte weergawe van Rapport verskyn nie, en die koerant het in 'n skikkingsaanbod via die Persombud die volgende teks in hierdie verband aangebied:

“Rapport vra onvoorwaardelik om verskoning na aanleiding van die berig 'Dominee stuur glo stoute WhatsApps aan lidmaat' wat op 24 Junie 2018 in Rapport verskyn het, waarin geskryf is ds. Johann Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode en ook voorheen die NG kerk Doornkloof se predikant, was verlede jaar in die verleentheid toe sy seun die kerksakeverslaggewer Jean Oosthuizen uitgeskel het met woorde soos moffies, boudkappertjies en p**s.

“Daar was destyds twee opeenvolgende oproepe aan Jean Oosthuizen en Ernst se seun, Stephan, het ontken dat dit hy is wat praat in die eerste oproep waarin hierdie woorde gebruik word.”

Ernst verwerp egter hierdie regstelling, en dring aan op die volgende bewoording:

“Rapport vra dr Johann Ernst onvoorwaardelik om verskoning vir die plasing van ‘n berig wat op 24 Junie 2018 in die koerant verskyn het oor bepaalde woorde wat sy seun teenoor die kerksakeverslaggewer Jean Oosthuizen sou geuiter het. Rapport het dit behoorlik nagegaan en erken dat dit nie dr Ernst se seun is wat Jean Oosthuizen geskakel het nie en dat sy selfoon wederegtelik daarvoor gebruik is.

“Rapport erken verder dat verskeie artikels van die Perskode by die inwin en rapportering hiervan oortree is en dat die waardigheid en reputasie van dr Ernst en sy seun hierdeur ernstig geskend is. Rapport distansieer hom van Jean Oosthuizen se eie optrede in dié verband en onderneem om op paslike wyse teenoor Jaco Nel, wat die gewraakte berig geskryf het, op te tree.

“Rapport is bewus daarvan dat Jean Oosthuizen ‘n persoonlike aksie teen dr Ernst en sy seun voer en sal daarom verseker dat Jean Oosthuizen in die toekoms geen berigte in die koerant skryf waarin daar enigsins na dr Enst of sy seun verwys word nie. Rapport onderneem om hierdie regstelling te plaas by al die elektroniese berigte wat op enige stadium oor hierdie aangeleentheid op Netwerk24 verskyn het. Dr Ernst het onderneem om geen verdere aksie teen Rapport oor hierdie aangeleentheid te neem nie.”

Wichmann motiveer onder meer soos volg waarom Rapport nie aan Ernst se versoek kan voldoen nie:

·         Sy teks sluit verskeie ander griewe in wat hy teenoor vorige beriggewing en persone opper – en regstellings hieroor moet apart en met ander persone en instansies hanteer word;

·         Die koerant het nie die stemboodskappe deur ‘n stemkenner laat verifieer nie en kan dus nie  “erken” dat dit Stephan was wat die betrokke woorde gebesig het nie – die bewering bly staan dat dit eersgenoemde wat die woorde geuiter het, al word dit ook betwis;

·         Dit word nie betwis dat Stephan ook vir Oosthuizen gebel het nie – ‘n oproep wat óók onvanpas was;

·         Die bewering dat die joernalis ‘n persoonlike vendetta teen Ernst voer, is van alle waarheid ontbloot;

·         Die koerant kan nie onderneem om voortaan geen berigte oor ‘n spesifieke onderwerp te plaas nie;

·         Rapport is nie bewus van ‘n persoonlike vendetta wat Oosthuizen (wat nie ‘n werknemer van die koerant is nie) teen Ernst sou voer nie en het nog nooit enige klagte in dié verband ontvang nie; en

·         Ernst is nie by magte om aan die koerant voor te skryf watter interne dissiplinêre stappe om te neem nie.

Wichmann voeg by dit is ‘n feit dat Ernst in die verleentheid oor die polemiek was. Dit verduidelik ook waarom hy uit sy pad gegaan het om beswaar teen die berigte aan te teken.

Die gesprek

Die kernvraag was of die koerant geregverdig was om te berig dat Ernst se seun “die kerkverslaggewer Jean Oosthuizen uitgeskel het met woorde soos moffies, boudkappertjies en p**s.”

Dit is belangrik om daarop te let dat die joernalis bogenoemde as ‘n feit gestel het – al is Stephan se ontkenning daarvan ook in die aanlyn-weergawe gepubliseer.

Ter agtergrond: Drie oproepe is kort ná mekaar van Stephan se selfoon na Oosthuizen gemaak. In die eerste oproep is die gewraakte woorde geuiter; die tweede oproep is vinnig beëindig; en ‘n derde oproep (hierdie keer van Stephan af) het gevolg. Ek het na ‘n opname van al hierdie oproepe geluister.

My hooftaak was om duidelikheid hieroor te probeer verkry – want daar was ‘n moontlikheid dat die bewering onwaar was, met die gepaardgaande onberekenbare skade wat dit onnodiglik aan die betrokkenes kon berokken.

In die gesprek het Scholtz en De Lange erken dat die koerant nie geverifieer het dat dit Stephan was wat die skelwoorde gebruik het nie (dit was afkomstig van ‘n berig in ‘n ander publikasie), en kon daarom nie instaan vir die korrektheid daarvan nie.

Die koerant kon gevolglik nie enigiets van waarde in die linker-skaal van geregtigheid plaas nie.

Die regter-skaal, behorende aan Ernst, het egter die volgende elemente bevat, waarvan die eerste twee nogal gewigtig was:

·         Onderwys-owerhede het bevind Stephan het nie die gewraakte oproep gemaak nie;

·         Die persoon wat wel die oproep gemaak het, is bereid om dit onder eed te verklaar;

·         Stephan self ontken dat hy die oproep gemaak het; en

·         Opnames van die oproepe het my met die indruk gelaat dat twee verskillende persone vir Oosthuizen gebel het (ek meen die eerste beller se stemtoon was effens laer as dié van die ander beller – Stephan).

In daardie stadium het die pendule sterk in Ernst se guns begin neig.

My oproep na die persoon wat na bewering die eerste oproep gemaak het, het die finale deurslag gegee. Daardie persoon, wie se naam en beroep ook aan my bekend is, het bevestig dat hy (en nie Stephan nie) die gewraakte oproep gemaak het. Al is ek nie ‘n sogenaamde stemkenner nie, was ek boonop daarvan oortuig dat ek met dieselfde persoon gepraat het na wie se stem ek in die opname van die gewraakte oproep geluister het.

Dit het my herinner aan die uitspraak van ‘n Amerikaanse regter in ‘n uitspraak oor pornografie, wat gesê het dat dit moeilik is om dit te definieer, maar dat hy wel weet wanneer hy dit sien.

Ek weet ook wel wanneer ek dit hoor. Ek is bereid om my naam en my reputasie op die spel te plaas deur te sê: Dit was nie Stephan wat die gewraakte oproep gemaak het nie.

As Rapport soortgelyke moeite gedoen het om dit te verifieer, sou die koerant dit nie eens as ‘n bewering gepubliseer het nie – wat nog te sê van om dit as ‘n feit te stel.

Ek het daarom geen twyfel dat die betrokke beriggewing vir Ernst, en vir sy seun, ernstige en onnodige leed en verleentheid veroorsaak het.

Om daardie rede kon ek nie tevrede wees met die aanlyn-verskoning wat Rapport reeds gepubliseer het nie, hoewel ek dankbaar was dat Ernst se seun se ontkenning wel deel daarvan gevorm het.

Hierdie verskoning lui: “Die berig het vroeër gelees dat ds. Johann Ernst se seun tydens die oproep woorde soos moffies, boudkappertjies en p**s gebruik het. Daar was destyds twee opeenvolgende oproepe aan Jean Oosthuizen en Ernst se seun, Stephan, het ontken dat dit hy was wat praat in die eerste oproep waarin hierdie woorde gebruik word.”

Hierdie regstelling het bloot bygevoeg dat Stephan die bewering ontken het – terwyl die hart van die saak was dat hy onskuldig was.

Ek neem nie Rapport kwalik dat dit nie Ernst se kommentaar gevra het nie, omdat die verslaggewer bloot gemeen het dat hy ou inligting as konteks gebruik het.

Die feit van die saak, egter, bly dat die bewering teen Stephan vals was – wat daarom ook dat dit nie gehoort het tussen berigte waar bewerings teen ander predikante gemaak word waarvan die inhoud nog nie bevestig is nie.

Teen die einde van die gesprek was dit verblydend dat daar min of meer konsensus was oor die inhoud van ‘n verskoning – waarvoor ek vir Ernst, maar veral ook vir die koerant dankbaar was.

Ek moet byvoeg dat Rapport se gesindheid tydens die gesprek onberispelik was, wat my deurgaans daarvan oortuig het dat die etiese gehalte van sy verslaggewing swaarder geweeg het as enige ander oorweging. Met ander woorde: Die koerant het nooit probeer om die onverdedigbare te verdedig nie.

Kudos!

Ek is ook oortuig daarvan dat nie die koerant, of die joernalis, enige vendetta teen die Ernst-familie voer nie.

Bevinding

Die beriggewing het die volgende artikels van die Perskode oortree:

·         1.1: “The media shall take care to report news truthfully, accurately and fairly”;

·         1.2: “News shall be presented in context and in a balanced manner, without any intentional or negligent departure from the facts whether by distortion, exaggeration or misrepresentation, material omissions, or summarisation”;

·         1.3: “… Where a report is not based on facts or is founded on opinion, allegation, rumour or supposition, it shall be presented in such manner as to indicate this clearly”;

·         1.7: “Where there is reason to doubt the accuracy of a report or a source and it is practicable to verify the accuracy thereof, it shall be verified. Where it has not been practicable to verify the accuracy of a report, this shall be stated in such report”; en

·         “The media shall exercise care and consideration in matters involving dignity and reputation…”

Erns van oortredings

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van die Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3). Die verbrekings van die Kode soos hierbo aangedui, is almal Vlak 2-oortredings.

Optrede

Gebaseer op my ondersoek, sowel as op die mate van konsensus wat uiteindelik bereik is, word Rapport gevra om die volgende teks te plaas (bo-aan bladsy 6 van die gedrukte weergawe, en ter vervanging van die een wat reeds aanlyn verskyn):

Rapport vra onvoorwaardelik om verskoning dat die koerant op 24 Junie vanjaar dit as ‘n feit gestel het dat dr. Johann Ernst se seun die kerksake-verslaggewer Jean Oosthuizen uitgeskel het met woorde soos moffies, boudkappertjies en p**s.

Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode en voorheen ‘n Doornkloof-predikant, het ‘n klag hieroor by die Persombud, Johan Retief, gelê.

Die Ombud het ná ‘n ondersoek onder meer bevind dat:

·         dit nie Ernst se seun was wat die oproep gemaak het nie;

·         sou Rapport die bewering deeglik geverifieer het, die koerant dit nie as ‘n feit sou stel nie;

·         ons beriggewing buite verband of konteks was omdat berigte oor bewerings van ander Centurion-predikante die fokus van die berig was, en die inhoud van die verwysing na Ernst se seun demonstreerbaar onwaar was;  en

·         aanvanklik verkeerdelik nagelaat het om te berig dat Ernst se seun die bewering ontken het.

Retief sê in sy bevinding: “Ek is bereid om my naam en my reputasie op die spel te plaas deur te sê: Dit was nie Ernst se seun wat die gewraakte oproep gemaak het nie.”

“Rapport vra ook om verskoning dat die beriggewing die waardigheid en reputasie van Ernst en sy seun onnodiglik geskend het.

“Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.

Die opskrifte moet die woorde “verskoning” of “apologie”, asook Ernst se van, bevat; die teks moet ook die Persraad se logo bevat.

Appèl

Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombud