Skip to main content

Dr Roodt vs Die Burger


Mon, Sep 30, 2013

30 September 2013

Geagte dr. Roodt

U klag oor twee meningsartikels in Die Burger verwys.

Dié artikels is die volgende:

·         Rubriek: Louise Mabille en die Afrikaner, deur prof. Amanda Gouws (8 September 2013); en

·         Forum: ‘n Vreemde verhaal teen feminisme?, deur Johannes de Villiers (11 September 2013).

U kla:

·          spesifiek dat:

o   Gouws na die Praag-webwerf as “regs, onverdraagsaam en rassisties” verwys; en

o   De Villiers ook die term “regs” gebruik met verwysing na die webblad.

·         in die algemeen dat Die Burger:

o   u verteken as ‘n soort kranksinnige neo-Nazi (as deel van ‘n veldtog teen u);

o   Afrikanerhaat of etniese onverdraagsaamheid teen Afrikaners aanblaas, wat neerkom op haatspraak soortgelyk aan anti-Semitisme teen die Jode; en

o   u daarom vervolg op grond van u taal, kultuur, afkoms en etniese identiteit met die oog daarop om u ernstige leed te berokken of selfs kommunistiese moordbendes aan te hits om u te vermoor.

In latere korrespondensie sê u dat Die Burger ook Mabille se reputasie en waardigheid in ‘n “heksejag” geskend het, asook dat die koerant meningsvryheid teenwerk deur nie die menings van andersdenkendes te publiseer nie.

Let asseblief daarop dat u nie namens Mabille kan kla nie (mits u dit met haar toestemming doen) – ek kan daarom nie daardie deel van u korrespondensie hanteer nie. Daarby is dit die redakteur se alleen-prerogatief om te besluit oor wat die koerant publiseer en wat nie, en hierdie kantoor kan daarom nie enige uitspraak lewer oor u stelling dat Die Burger spraakvryheid demp nie.

Spesifieke klag

 Gouws skryf: “Toe Louise Mabille se rassistiese skrywe op die Praag-webblad onder my aandag kom, het ek besluit om nie te reageer nie omdat ek glo dié regse, onverdraagsame en rassistiese webwerf verdien geen publisiteit nie.” De Villiers tipeer ook die webblad www.praag.co.za as “regs”.

 

U kla spesifiek oor bogenoemde stellings.

 

Ek wys u daarop dat daardie opmerkings in meningskolomme verskyn het, en dat Art. 7 van die Perskode daarom hierdie opmerkings reguleer. Ek vertaal daardie afdeling soos volg:

·         7.1 Die pers is daartoe geregtig om op enige optrede of gebeure van openbare belang kommentaar te lewer of dit te kritiseer, mits sodanige kommentaar of kritiek billik en eerlik gelewer word.

·         7.2 Kommentaar deur die pers sal so aangebied word dat dit duidelik blyk dat dit kommentaar is; en dit sal gebaseer wees op feite wat eerlik gestel of waarna op ‘n billike wyse verwys word.

·         7.3 Kommentaar deur die pers sal ‘n eerlike uitdrukking van mening wees, sonder kwaadwilligheid of oneerlike motiewe en dit sal alle beskikbare relevante feite op ‘n billike manier in ag neem.

In lyn hiermee het die Grondwetlike Hof (regter Edwin Cameron) in die saak tussen Robert McBride en The Citizen soos volg beslis: “Criticism is protected even if extreme, unjust, unbalanced, exaggerated and prejudiced, as long as it expresses an honestly held opinion, without malice, on a matter of public interest on facts that are true.”

Op grond van bogenoemde meen ek dat die tipering van die Praag-webblad as “regs, onverdraagsaam en rassisties” deur die Perskode beskerm word, al is u ook van mening dat daardie opinie verkeerd is. (Let asseblief daarop dat dit nie my taak is om te beslis of bogenoemde tipering korrek is of nie – my kantoor is nie ‘n hof wat oor die meriete van sake beslis nie. My enigste taak is om te bepaal of ‘n koerant geregverdig was in dit wat hy gepubliseer het.)

Ek meen ook dat dit nie van Die Burger verwag kan word om ‘n definisie van “regs” te gee wanneer sy rubriekskrywers daardie term gebruik nie (in reaksie op u argument dat die koerant ‘n kommunistiese definisie van dié term gebruik, en dat hy dit aan die publiek behoort te openbaar). Dit sal ‘n kwade dag wees as hierdie kantoor beslis dat ‘n publikasie ‘n “verkeerde” definisie van ‘n term gebruik het en die Perskode om daardie rede verbreek het, of dat ‘n koerant telkens ‘n begrip moet definieer voordat hy dit kan gebruik.

Algemene klag

U klag sentreer rondom haatspraak, wat Art. 16 van die Handves van Menseregte onder meer as die aanstigting van geweld en haat opgrond van etnisiteit beskryf. U argument dat Die Burger se gebruik in meningskolomme soos hierbo beskryf geweld teen u sou aanblaas, is te dik vir ‘n daalder – die blote gebruik van die woorde “regs, onverdraagsaam en rassisties” het nie redelikerwys die potensiaal om u fisieke skade te berokken nie.

Omdat ek die klag van haatspraak verwerp, doen ek dit ook met betrekking tot die res van daardie deel van die klag. Dit geld spesifiek van u aantyging dat die koerant u as ‘n soort kranksinnige neo-Nazi voorstel – menings van rubriekskrywers (lees: regs, onverdraagsaam en rassisties) is immers nie naastenby gelyk aan of “kranksinnig” of “neo-Nazisme” nie.

Aansoek om appél

Ons klagte-prosedure bepaal dat u binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman