Skip to main content

Louis Wolmarans vs. Middelburg Observer


Sat, May 13, 2017

Bevinding deur die Persombud

13 Mei 2017

Hierdie bevinding is gebaseer op die skrywes van mnr. Louis Wolmarans en dié van Daleen Naudé, joernalis van die Middelburg Observer.

Wolmarans kla oor ? berig in die Middelburg Observer van 31 Maart 2017, met die opskrif Vyfling is ? groot liegstorie.

Klag

Wolmarans se hoofklag is dat die storie sy vrou as ? leuenaar afmaak (veral omdat sy sou gesê het dat sy ? vyfling sou aanneem, van wie drie by geboorte dood is), dat die verslaggewer die menings van haar bronne aanvaar het sonder om die inligting behoorlik te verifieer, en dat sy vrou nie ? regverdige kans gekry het om haar kant van die saak te stel nie.

Kleiner klagtes sluit in – in hooftrekke – dat die joernalis verkeerdelik gerapporteer het dat sy vrou:

·         59 jaar oud was;

·         die kinders bo alle twyfel gaan kry;

·         gesê het in watter hospitaal die kinders gebore sou word;

·         ? niggie het wat ? prokureur is;

·          ? prokureur in Pretoria het; en

·         gesê het sy het ? diamant van R2.5-miljoen verloor.

Wolmarans voeg by dat sy vrou die slagoffer was van gewetenlose mense wat babas om die een of ander duistere rede misbruik. “Hulle was baie oortuigend met die storie van die tweeling wat skielik verander het in ? vyfling,” voer hy aan.

Hy sê die beriggewing het ? groot familie-twis veroorsaak en het die familie uitmekaar gedryf. 


Die teks

Die artikel, geskryf deur Daleen Naudé, sê die storie dat me. Katie Wolmarans ? familielid se vyfling gaan aanneem, is ? bedrogspul – en die leuenaar, wat “uitgevang is dat sy gejok het”, is die einste Wolmarans.

Lede van die Klein Engele, ? groep wat baba- en kleuter-benodigdhede versamel en na minder gegoede families versprei, het na berig word onraad vermoed toe Wolmarans gesê het dat die vyfling vroeg gebore is en dat drie van die babas nie oorleef het nie, asook dat die ander twee in die Eugene Marais Hospitaal behandel word.

Die hospitaal het by navraag so ? voorval ontken.

Die storie verwys na ? vorige berig, wat gesê het ? “vrou” (Wolmarans se identiteit is in hierdie artikel verswyg) het vertel dat sy ? 15-jarige familielid se vyfling sou aanneem “om die kidners (sic) in die familie te hou” – nadat sy aanvanklik op die Klein Engele se Facebook-blad gevra het vir hulp met ? tweeling wat sy sou aanneem. Op 8 Februarie het sy egter hulp vir ? vyfling versoek.

Naudé het geen geheim daarvan gemaak dat Wolmarans na haar mening gelieg het nie.

Die koerant reageer

Naudé sê:

·         Me. Wolmarans het self haar ouderdom verskaf, en dit agterna bevestig. Aangehegte skerm-afdrukke bevestig dit.

·         Sy het verskeie kere met me. Wolmarans (en haar man) gepraat, en hulle ook uitgenooi om haar te besoek (wat hulle nooit gedoen het nie);

·         Me. Wolmarans het vir haar gesê:

o   dat haar niggie ? prokureur is en dat sy alles vir haar sal reël;

o   dat alles reeds gereël is in Pretoria en dat hulle net wag dat die babas gebore word. Die rede vir die aanneming was omdat hulle “die babas in die familie wil hou”;

o   Sy sou by die "niggie-prokureur” in Pretoria tuisgaan om met die babas te “bond”;

o   Dieselfde meisie wie se baba ? paar maande vantevore dood is, verwag die vyfling en wil nie die babas hê nie;

o   Die meisie wat die vyfling verwag, is 15 jaar oud – sy het gesê dat die meisie ? familielid se dogter is en dat die meisie reeds die kinders “afgeteken” het;

o   Drie van die vyfling is dood by geboorte en dat twee in die intensiewe eenheid van die Eugene Marais Hospitaal behandel word;

o   Hoe hulle die ruimte in die huis gaan benut as die kinders eers daar is;

·         Sy het navraag gedoen by die kraam-afdeling van die Eugene Marais Hospitaal, maar die die matrone het bevestig het dat daar beslis nié ? vyfling gebore is nie. Sy het me. Wolmarans toe gekonfronteer met dié inligting – “waarop die vrou skielik haar storie verander het en gesê dat sy reeds ? prokureur aangestel het om die vorige prokureur wat sy gehad het te ondersoek, want daar is ook vir haar gelieg”;

·         Kleine Engele het Facebook- en WhatsApp-boodskappe waar me. Wolmarans vra vir klerasie vir die vyfling; sy het aanvanklik gevra vir klere vir ? tweeling, maar dit later verander na’n vyfling;

·         Sy het mnr. Wolmarans gevra hoe hulle op hul ouderdom na vyf nuwe babas gaan omsien, en hy het gesê hy sal daaraan dink as hulle daar is; en

·         ? Lid van Kleine Engele het aan haar gesê dat me. Wolmarans haar in kennis gestel het dat sy ? diamant verloor het.

Ontleding

Ek het die belangrikste dele van die korrespondensie aangehaal wat, so glo ek, die kern van die klag en van die joernalis se verweer bevat; ek het nie die berig van Februarie beoordeel nie, omdat dit nie deel was van die klag nie (en dit in elk geval te laat is om daaroor te kla).

Die saak sou moeilik gewees het (? “is”-“is nie”-situasie) – as dit nie was vir die sowat 100 bladsye met skermgrepe wat as getuienis op my lessenaar beland het nie. Die kern van die storie kom grootliks in hierdie boodskappe voor (byvoorbeeld. korrespondensie oor die vyfling, die Eugene Marais Hospitaal, ens.), en ek het daarom geen rede om te vermoed dat die joernalis klei getrap het met haar storie nie.

Dit oortuig my ook dat ek rede het om die verslaggewer te glo wat die res van haar verweer betref (soos die kere dat sy mnr. en mev. Wolmarans se mening gevra het, en oor die diamantring).

Ek moet egter byvoeg dat die joernalist gerus meer subtiel kon gewees het – dis beter om net die feite te gee en dit aan die publiek oor te laat om hul eie gevolgtrekkings te maak.

Die berig was egter nie van so ‘n aard dat dit ‘n bevinding teen die koerant regverdig nie.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Appèl

Die Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

 

Johan Retief

Persombud