Skip to main content

Louise Malherbe, I. van Aswegen en Rita Prinsloo vs. Rapport


Wed, Feb 29, 2012

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman

21 Junie 2010
 
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van me. Louise Malherbe, mnr. I van Aswegen, me. Rita Prinsloo en die koerant Rapport.
 
Klag
 
Drie lede van die publiek kla oor ‘n spotprent wat op 31 Januarie 2010 in Rapport verskyn het.
 
Die kern van die klag is dat die spotprent met gebed en dus ook met geloof, godsdiens en God spot.
 
Malherbe se klag is effens meer uitgebreid. Sy stel dit só:
  • Rapport maak of God ‘n grapmaker is wat te veel reën stuur;
  • Die koerant spot met honderde mense wat alles in vloede verloor het; en
  • Rapport het geen respek vir mense wat geliefdes in vloede verloor het nie.
Ontleding
 
In die spotprent sit ‘n boer en sy vrou op ‘n plaashuis se dak, met water wat dakhoogte bereik het. ‘n Bakkie dryf verby; net die punt van ‘n windpomp steek uit. Die vrou vra aan haar man: “Wanneer het Oom Angus dan hier kom bid?”
 
Die verwysing is na mnr. Angus Buchan wat bekendheid verwerf het vir sy groot gebedsbyeenkomste; hy het ook pas voor die publikasie van die spotprent in die drooggeteisterde Suid-Kaap ‘n gebedsbyeenkoms vir reën gelei.
 
Rapport ontken dat gespot word met gebed, geloof, godsdiens of God. “Rapport sien eerder die ironie in ‘n ongelukkige situasie (reënval-skade) en Buchan se gebede vir reën (in ander, droë plekke) raak.” Die spotprent is tong-in-die-kies bedoel en spreek van empatie en deernis, sê die koerant.
 
Die koerant sê sowat 70-80% van Rapport se lesers is kerkmense of gelowiges – daarom het die redaksie vooraf deeglik oor die saak besin. Rapport het boonop nog altyd positief oor Buchan berig, sê die koerant.
 
Rapport verwerp die “breë, kras stelling” oor “honderde mense in nood”.
 
Art. 2.1 van die Perskode is hier ter sprake: “Die pers moet diskriminerende of afkrakende verwysings na mense se…godsdiens…vermy.”
 
Die spotprent impliseer inderdaad gebed, geloof, godsdiens en God – die vraag is dus of dit diskriminerend of afkrakend na mense se godsdiens verwys.
 
Die verband wat die spotprent trek tussen die geen reën wat val (waar Buchan ‘n gebedsbyeenkoms gehou het) en die vloede (waar geen melding gemaak is van ‘n biddag vir reën nie, maar die water tog in oorvloed neergekom het) hoef nie as afkrakend teenoor die Christelike geloof gesien te word nie. Dis eenvoudig ‘n feit dat nie elke bidbyeenkoms vir reën “suksesvol” is nie; verspoelings kom ook algemeen voor (met of sonder biddae vir reën). As jy glo dat dit God is wat laat reën, is dit boonop nogal moeilik om die “te veel” reën nie ook aan God te wyt nie.
 
Hier is ‘n duiwelsadvokaat-argument: Dit kan omgekeerd ook aangevoer word dat, agter die spotprent, eintlik die geloof sit in ‘n God wat wel gebede kan verhoor en magtig is om reën te stuur. (En dat gelowiges daarom juis dankbaar vir die spotprent kan wees.)
 
Die klag dat Rapport spot met honderde mense wat alles in die vloede verloor het en dat die koerant geen respek het vir mense wat geliefdes in die vloede verloor het nie, is te dik vir ‘n daalder. Dis soos om te sê dat die koerant misdaad bevorder deur daaroor te berig – die vloede, gepaard met die skade en menseverlies, was ‘n werklikheid. Getrou aan die tradisie om ironie in spotprente uit te beeld, het die koerant bloot daardie werklikheid verbind met die ander realiteit van die droogte in die Suid-Kaap.
 
Dit is goed dat Rapport die versekering gegee het dat sy senior redaksie verantwoordelik met die publisering van sensitiewe materiaal omgaan.
 
Ondanks die bevinding hieronder, kan Rapport dit gerus oorweeg om uit sy eie daardie mense wat wel deur die spotprent gegrief is van sy goeie trou te verseker. Dit sal die koerant se geloofwaardigheid en die openbare persepsie van Rapport se sensitiwiteit teenoor sy lesers verhoog.
 
Bevinding
 
Die spotprent hoef nie as diskriminerend of afkrakend teenoor die Christelike geloof gesien te word nie en ook nie as onsensitief teenoor vloede-slagoffers nie. Rapport het nie die Perskode oortree nie; die klag word van die hand gewys.
 
Appèl
 
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
 
 
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman