Vbuild Construction(Edms)Bpk. vs. Rapport


Fri, Apr 20, 2018

Bevinding deur die Persombud

20 April 2018

BESONDERHEDE

 

Klaer

 

 

Vbuild Construction (Edms.) Bpk.

 

Klag ingedien deur

 

 

Me. Madelaine Botha, van Ilzé Eichstädt Prokureurs

 

Datum van artikel

 

 

4 Maart 2018

 

Opskrif

 

 

Drama om vrou se onveilige huis – Gas, krag en loodgietery pla, maar bouer sê sy moenie kla

 

 

Bladsy

 

 

4

 

Ook gepubliseer op webtuiste

 

 

Ja

 

Outeur van artikel

 

 

Elaine Swanepoel

 

Respondent

 

 

Alet Wichmann, Rapport se interne ombud

Klag                                            

Vbuild kla dat die:

·         koerant nie die onderneming van sy regsverteenwoordiger, mnr. Willem de Klerk, gestand gedoen het nadat eersgenoemde skriftelik onderneem het dat geen berig gepubliseer sal word sonder konsultasie met die maatskappy nie; en

·         inhoud van die storie verkeerd, misleidend en kwaadwillig was aangesien die berig bewerings as feite voorgehou het; en ‘n ondersoek na skade aan ‘n huis, wat vóór publikasie deur verskeie kundiges gedoen is, bevestig het dat weerlig (en daarom nie die maatskappy nie) daarvoor verantwoordelik was.

Die teks

Die storie sê dat me. Jenny Uys nou al twee jaar lank wag om haar droomhuis in ‘n spoglandgoed in Hartbeespoort te betrek omdat inspekteurs bevind het dié splinternuwe woning was nie veilig om in te bly nie.

Swanepoel berig dat Uys intussen ‘n kamer in Pretoria huur.

Uys dreig na berig word met regstappe as die boukontrakteur “nie sy brouwerk op sy koste regmaak nie”. Die koste kan na berig word amper meer as die oorspronklike boukoste beloop aangesien ‘n gebarste waterpyp die plafon inmekaar laat sak en die huis oorstroom het. Elektriese toestelle moet ook vervang word.

Die artikel lui voorts dat die Madibeng-munisipaliteit die behuisingsertifikaat vir die huis teruggetrek het “nadat onafhanklike kontrakteurs bevind het die gasinstallering, elektriese bedrading en loodgietery voldoen nie aan wetlike vereistes nie”.

Luidens ‘n brief van die munisipaliteit het dit onder sy aandag gekom dat die elektriese sertifikaat onvoldoende was, dat die gas nie korrek geïnstalleer was nie, en dat die loodgieter-sertifikaat uitgereik is voordat dié werk voltooi is.

Swanepoel haal die bouer aan wat sê dat Uys weier om geldige sertifikate, wat intussen verkry is, te onderteken. “Hy sê sy bouwerk was op peil en beskuldig Uys daarvan dat sy onnodig fout soek, die proses vertraag en ‘n smeerveldtog teen hom voer,” het sy berig.

Die argumente

Agtergrond

Wichmann sê:

·         Swanepoel het gereageer op ‘n nuuswenk van Uys, wat beweer het dat:

o   sy weens verskeie ongerymdhede deur Vbuild twee jaar lank reeds wag om in haar nuut-geboude huis in te trek;

o   die munisipaliteit haar behuisingsertifikaat teruggetrek het nadat onafhanklike kontrakteurs bevind het dat die gas-installering, elektriese bedrading en loodgietery nie aan wetlike vereistes voldoen het nie; en

o   die bouer geweier het om die probleme reg te stel;

·         Uys het verskeie dokumente aan die joernalis verskaf, insluitende:

o   ‘n munisipale terugtrekking van ‘n okkupasie-kennisgewing waarin dit gestel word dat Vbuild ‘n bedrieglike sertifikaat aan die munisipaliteit gelewer het en dat die gebou nie voldoen het aan toepaslike wetgewing nie;

o   ‘n soortgelyke kennisgewing van ‘n onafhanklike elektriese konsultant;

o   ‘n inspeksie-verslag deur ‘n onafhanklike kundige rakende defektiewe gas-installasies;

o   ‘n verslag van Inspect-a-Home wat verskeie defekte uitgewys het; en

o   verwante epos-kommunikasie;

·         Nadat Swanepoel tevrede was dat Uys se beweringe redelikwys waar kon wees, het sy Vbuild telefonies om kommentaar op die bewerings gevra (op 22 Februarie);

·         Vbuild het wou egter geen vrae, hetsy per telefoon of op skrif, beantwoord nie omdat “daar huidiglik ? feitelike dispuut tussen die partye is en dat hulle besig is om ? bevel teen Uys te kry sodat sy nie met die media mag praat nie”; die maatskappy het ook laat blyk dat die koerant nie mag verslag doen oor die dispuut nie;

·         Op dieselfde dag het Botha vir Swanepoel probeer oortuig, met dieselfde redes, dat sy nie kon voortgaan met die artikel nie, en het die joernalis versoek om De Klerk se kontakbesonderhede aan haar te verskaf, wat die verslaggewer binne tien minute gedoen het;

·         De Klerk het die volgende oggend ? dringende aansoek teen Rapport en Uys ontvang om teen 14:00 op dieselfde dag in die hof te verskyn in ‘n poging om Rapport en alle ander mediapublikasies te belet om oor die saak verslag te doen;

·         De Klerk het Botha onmiddellik om ‘n verduideliking gevra waarom die “dringende” aansoek enkele ure voor die verskyningstyd (in Pretoria) per epos beteken is, waarop Botha aangevoer het dat haar kliënt benadeel sou word en dat “die media nie verslag kan doen oor sake wat hangende was nie”; De Klerk het haar ingelig dat hy verdere instruksie van sy kliënt sou neem;

·         Rapport moes onder uiterste druk besluit of die koerant in staat sou wees om binne so ‘n kort tyd stukke in te dien en voor die hof kon verskyn; op grond van praktiese realiteite het Rapport toe ‘n beperkte onderneming gegee (in die vorm van ‘n sonder-benadeling-van-regte-brief);

·         Die skrywe is voor 13:00 aan Botha per epos gestuur; sy het kort daarna ontvangs erken, die onderneming aanvaar en die aansoek teen Rapport teruggetrek; en

·         Dit het (later) tot Rapport se aandag gekom dat die “dringende” aansoek teen die eerste respondent (Uys) van die rol geskrap is omrede daar nie gronde vir dringendheid was nie.

Wichmann voer aan dat hierdie optrede van Vbuild en hul prokureur “onregmatig en onderduims” was, en bloot ‘n poging om die media se mond te snoer. (Die rede waarom argumente in hierdie verband nie hier aangeteken word nie, sal hieronder blyk.)

Sy sê Rapport het besluit om die artikel te publiseer, maar om nie Vbuild te identifiseer nie om sodoende nie die ooreenkoms tussen die partye te verbreek nie.

Botha sê dis vreemd dat Uys beweer sy kon nie in haar huis intrek nie – terwyl die foto wat gepubliseer is, toon dat daar ‘n wasmasjien en‘n kombuis-implement in die huis gestaan het, en daar skottelgoed in die wasbak was.

Sy voer aan Uys het versuim om te meld dat die munisipaliteit op laasgenoemde se aandrang die sertifikaat teruggetrek het, asook dat Vbuild die gas geïnstalleer het ooreenkomstig die bouplanne wat haar argitek opgetrek het en wat deur die munisipaliteit goedgekeur is. Sy sê die bouers het dié saak nogtans reggestel, hoewel dit nie die maatskappy se verantwoordelikheid was nie.

Die regsverteenwoordiger voeg onder meer by:

·         Vbuild het elke uitwysing van ‘n probleem (na aanleiding van die Inspect-a-Home-verslag), ongeag of sodanige defek die bouers se verantwoordelikheid was of  nie, reggestel;

·         Uys het self talle van die probleme veroorsaak;

·         Vbuild het die joernalis na haar verwys omdat die:

o   saak reeds na haar verwys is; en

o   verslaggewer reeds soveel aspekte van die saak verdraai het;

·         Swanepoel se optrede was onredelik – Vbuild het haar ingelig dat daar ‘n dispuut tussen die partye bestaan het, maar Swanepoel was adamant en het gesê as Pres. Cyril Ramaphosa haar nie kon keer om ‘n artikel te publiseer nie, die bouers dit ook nie kon doen nie;

·         Dit is onwaar dat sy aan die joernalis gesê het Vbuild was besig om ‘n bevel teen Uys te verkry sodat sy nie met die media mag praat nie;

·         Sy het aan Swanepoel gesê dat haar inligting nie korrek was nie en dat Vbuild van voornemens was om die hof te nader vir ‘n dringende tussentydse bevel;

·         De Klerk het ‘n onderneming gegee dat Rapport nie met publikasie sou voortgaan nie, en dat die maatskappy ‘n kans sou kry om kommentaar te lewer vóór publikasie; Vbuild het dié onderneming aanvaar – maar die koerant het dit nie gestand gedoen nie; en

·         Op 26 Februarie het verskeie kundiges ná ‘n gesamentlike finale inspeksie bevestig dat die skade weens weerlig veroorsaak is (en dus nie weens Vbuild se “brouwerk” nie).

Ontleding

Hierdie onder-afdeling is slegs ter agtergrond, en benodig nie enige analise nie.

Dis egter nodig om te verduidelik waarom ek nie aandag (kan) gee aan bewerings, en teen-bewerings, oor Vbuild se gewaande optrede, of gebrek daaraan nie. Hierdie kantoor se fokus is naamlik op Rapport, nie op Vbuild nie – en al waarin ek belangstel, is of die koerant se verslaggewing redelik, akkuraat en billik was. My enigste belangstelling in Vbuild is in watter mate, indien enige, sy optrede tot Rapport se beriggewing aanleiding gegee het.

Ek noem ook in die verbygaan dat die teenwoordigheid van implemente in Uys se kombuis nie noodwendig daarop dui dat sy daar ingetrek het nie.

Onderneming

Wichmann ontken dat die koerant enige onderneming teenoor Vbuild verbreek het.

Sy sê die maatskappy se argument is gebaseer op par 6(b) van De Klerk se brief en argumenteer dat, hoewel dit altyd maklik is om in retrospek die bewoording van ‘n brief te verbeter, in ag geneem moet word dat De Klerk die brief onder groot druk geskryf het.

Sy voeg by:“Dit is egter duidelik genoeg uit par 6 as geheel dat Rapport inderdaad dieselfde artikel wat hulle twee weke later geplaas het, op Sondag 25 Februarie kon plaas, en steeds binne die perke van die onderneming sou bly. Die kern van die onderneming was duidelik, naamlik dat enige artikel wat Rapport sou plaas nie die klaer sou identifiseer nie, en indien daardie besluit heroorweeg sou word, dat Vbuild vooraf kennis gegee sou word.”

Tweedens wys Wichmann op Vbuild se houding oor kommentaar. Sy sê in haar eed-verklaring maak Botha, Vbuild se prokureur, die volgende stelling:

“I informed Elaine (die joernalis) that (Vbuild en sy eienaar) have no objection to provide her with their version of events ... but that I cannot see that it would bring the matter any further ... as it seems that (Elaine) had already made up her mind as to who is the wrongful party here. Ms. Elaine however indicated that (Rapport) is indeed interested in (Vbuild’s) version of the events and to publish same. I was not pursuaded by Ms Elaine’s comment” (Rapport se beklemtoning). 

Die interne ombud voer aan dat Botha dit duidelik gemaak het dat Vbuild in elk geval geen kommentaar wou lewer nie, en ook dat die maatskappy tevrede was dat ‘n storie gepubliseer word – solank die bouers nie geïdentifiseer word nie. Rapport het egter desondanks wel die moeite gedoen om Vbuild se kommentaar, soos blyk uit die hofstukke, in die storie in te werk.

Wichmann sê die tweede rede waarom Rapport nie weer vir Vbuild genader het vir kommentaar nie, is omdat die koerant redelike gronde gehad het om te glo dat, indien hulle sou, Vbuild hulle sou probeer verhinder het om die storie te publiseer.

Sy haal Art. 1.8 in dié verband aan wat lui: “The media shall seek the views of the subject of critical reportage in advance of publication; provided that this need not be done where the institution has reasonable grounds for believing that by doing so it would be prevented from reporting…

Sy konkludeer: “Die klaer se vorige reaksie op kommentaar, en die onderduimse wyse waarop hulle gepoog het om ‘n ex parte interdik te verkry, nie net teen Rapport nie, maar teen ‘any other media network’, het Rapport oortuig dat indien hulle Vbuild weer sou nader, selfs met die onderneming dat hulle nie geïdentifiseer sou word nie, Vbuild weer stappe sou neem om publikasie te verhoed, en dit sou doen selfs sonder om Rapport vooraf te waarsku. Rapport het nie sy onderneming aan Vbuild verbreek nie en het nie die perskode oorskry deur te versuim om Vbuild weer te nader vir kommentaar nie.”

Botha sê die feit dat De Klerk die brief en die onderneming onder “groot druk” geskryf het, is nie ‘n verskoning nie en bied nie ‘n skuiwergat om daarvan af te wyk nie.

Sy voeg by dis onwaar dat Vbuild nie bereid was om kommentaar te lewer nie – die onderneming, wat sy aanvaar het, het immers juis voorsiening gemaak dat Vbuild se kommentaar vóór publikasie gevra sou word.

Sy verduidelik dat, toe die joernalis Vbuild telefonies gekontak het, dit die eerste keer was dat die maatskappy van die beoogde publikasie verneem het, en was daarom nog nie in ‘n posisie om haar te raadpleeg nie; sy is adamant dat Vbuild het nie geweier om kommentaar te lewer nie, maar dat die maatskappy vir Swanepoel na haar vir kommentaar verwys het.

Botha sê Swanepoel het ook nie ‘n aanduiding van ‘n tydsbeperking vir kommentaar gegee nie, en het boonop die indruk geskep dat sy reeds haar mening gevorm het (soos onder meer uit haar menings op sosiale media geblyk het).

Ontleding

Die kernvraag is of Rapport sy onderneming teenoor Vbuild verbreek het, of nie – en indien wel, wat die gevolge daarvan was, of kon wees.

De Klerk se brief in hierdie verband lui soos volg:

·         6(a): “It will refrain from publishing any article on Sunday 25 February 2018, whether in the Rapport newspaper or on any of its electronic platforms which identifies any of your clients, directly or indirectly, in relation to the matters raised in your founding papers; and

·         6(b): “That should Rapport in future intend publishing any article concerning any of your clients in relation to the matters raised in your founding papers, your clients will again be approached for prior comment and will thus have the opportunity to seek any preventative recourse they believe they may be entitled to.”

Omdat woorde betekenis het, en De Klerk se ondernemings klokhelder is, is dit relatief maklik om tot ‘n bevinding te kom oor hierdie saak.

Par. 6(a): In hierdie paragraaf onderneem Rapport naamlik slegs om nie op Sondag, 25 Februarie, ‘n artikel te plaas wat Vbuild direk of indirek indentifiseer nie.

Hierdie deel van die onderneming geld duidelik net vir daardie Sondag, en nie vir enige ander toekomstige publikasie nie – nie as 6(a) in isolasie, of in die konteks van 6(b), of van die res van sy brief, gelees word nie.

Rapport het hierdie onderneming gestand gedoen deur nie op 25 Februarie te publiseer nie.

Par. 6(b): Dieselfde geld egter nie vir die volgende paragraaf nie, waarin Rapport onderneem dat die koerant vir Vbuild om kommentaar sal nader wanneer dit in ‘n later stadium oor die saak berig.

Weer eens: Woorde het betekenis.

Hoewel hierdie twee paragrawe natuurlik saam met mekaar gelees moet word, is dit ook duidelik dat die eerste een spesifiek oor publikasie op 25 Februarie gegaan het (‘n onderneming wat Rapport gestand gedoen het deur nie op daardie datum te publiseer nie), terwyl die volgende een oor ‘n later datum gehandel het – en wat spesifiseer dat, in so ‘n geval, die koerant Vbuild om kommentaar sou vra.

Die koerant erken Swanepoel het nie die maatskappy weer genader toe dit later gepubliseer het nie, soos ooreengekom – en het daarmee sy onderneming aan Vbuild verbreek.

Die redes wat die koerant aanvoer vir hierdie toedrag van sake is irrelevant, al is dit ook geldig – die feit bly staan dat De Klerk namens die publikasie onderneem het om Vbuild om kommentaar te vra, en dat dit nie gebeur het nie.

Dít is die punt: Indien Rapport daarvan oortuig was dat Vbuild die publisering van die storie sou wou keer as die koerant die maatskappy om kommentaar genader het, wat heel moontlik waar en dus geldig kon wees, moes De Klerk nooit in die eerste plek daardie onderneming gegee het nie. ‘n Onderneming is egter ‘n onderneming, en Rapport moes daarby gehou het.

Ek waardeer die feit dat Rapport nie Vbuild in die berig van 4 Maart geïdentifiseer het nie, maar ek neem ook in ag dat daardie maatskappy bekend was in die omgewing en dat ingeligtes na alle waarskynlikheid sou weet wie die maatskappy was waarna die artikel verwys het – soos trouens ook blyk uit Botha se klag.                

Botha se argument dat Vbuild inderdaad kommentaar wóú lewer, is ook geldig – soos veral blyk uit die feit dat die maatskappy aanvaar het dat Rapport hom vir kommentaar sou nader vóór enige storie oor die saak gepubliseer wou word. Dit maak nie sin dat Vbuild hiertoe ingestem het as die maatskappy nie kommentaar wou lewer nie.

Die feit dat Rapport nie sy onderneming gestand gedoen het nie, was onbillik teenoor Vbuild omdat dit tot ‘n wanbalans in die artikel gelei het, en kon daarom onnodige skade aan die maatskappy se openbare beeld berokken het.

Artikel se inhoud

Wichmann ontken dat die artikel feitelik foutief was – sy sê die storie was gegrond op verskeie stawende dokumente en die klaer is (aanvanklik) die kans gegun om kommentaar te lewer, maar het eerder verkies om ? dringende aansoek teen Rapport en Uys te bring.

Sy voeg by dat Rapport in elk geval sonder enige plig teenoor die klaer en bloot in die gees van gebalanseerde verslaggewing, Vbuild se weergawe (soos uit die hofstukke bekom) in die berig gestel het.

Sy sê ook dat die storie die bewerings as sodanig, en nie as feite nie, aangebied het.

Die interne ombud voeg by dat Rapport ? verdere memorandum van Van den Ende & Associates, gedateer 16 Februarie, ontvang het waarin vermeld word dat die dak-konstruksie self verdere skade aan die dak veroorsaak het. Die dokument noem ook twee keer dat, “unless approved by the responsible engineer as per the NHBRC Manual par 4.5.5, this is not allowed”. “Die bewerings rondom die skade aan die dak is egter nie in die artikel ingesluit nie.  Dit is daarom irrelevant,” argumenteer sy.

Met verwysing na die bewering dat ‘n ondersoek bevestig het dat die skade deur weerlig veroorsaak is, wys Wichmann daarop dat Vbuild nie spesifiseer na watter skade verwys word nie.

“Rapport kan nie reageer op die bevinding dat weerlig die waterpyp laat bars het nie. Die inligting wat op daardie stadium aan Rapport bekend was is akkuraat weergegee. Die klaer se ontkenning van skuld (soos wat die nuwe inspeksie glo wys) is in ieder geval ook in die berig ingesluit,” sê sy.

Sy sê ook dat die die artikel die skade aan die plafon toegeskryf het aan ? gebarste pyp – maar nêrens aangevoer het waarom die pyp gebars het nie. Sy sê die gebarste pyp illustreer slegs die reeks voorvalle wat sy al in die woning ervaar het.

Volgens Wichmann is die kern van die artikel dat verskeie aspekte van die werk nie aan wetlike vereistes voldoen het nie en dat die behuisingsertifikaat daarom teruggetrek is. “Dit is feitelik korrek. Die feit dat Uys skade gelei het as gevolg van enige van die omringende omstandighede is ? bysaak,” voeg sy by.

Botha verskil van Wichmann dat die berig Uys se bewerings as bewerings sou stel.

Sy sê ook dis onmoontlik om Vbuild se kommentaar in slegs twee sinne op te som, soos in die storie gebeur het – die artikel sê bloot dat die maatskappy die beweringe ontken het, en handel dan verder oor Uys se weergawe “en … elke leser van die artikel se aannames en vermoedens [word] hierdeur beïnvloed”.

Sy onken ook dat die waterpyp weens swak bouwerk gebars het, omdat dit deur weerlig veroorsaak is wat ‘n gat in die dak gelaat het.

Die artikel is boonop misleidend omdat die foto geneem is van die plek waar die sogenaamde brouwerk plaasgevind het – en die aanname word gemaak dat die bouers vir die skade aan die plafon verantwoordelik was, voeg sy by. Hoewel Vbuild se naam nie genoem is nie, het Uys vóór publikasie verskeie lasterlike bewerings op sosiale media gemaak en ‘n video geplaas wat direk aan Vbuild gekoppel kon word. Die indruk word selfs gewek dat alle probleme met die huis die maatskappy se skuld was. Uiteindelik het die gebou wel aan alle wetlike vereistes voldoen, sê Botha.

Ontleding

Ek het reeds aangedui dat dit buite my magte lê om te bepaal wie vir die skade aan Uys se huis verantwoordelik is – my taak is beperk tot die vraag hoe redelik Rapport se beriggewing oor hierdie saak was.

Die volgende twee vrae is hier van belang:

·         Was Uys se stellings as feit, of as bewering, gestel?; en

·         Was die beriggewing gebalanseerd?

Feit of bewering: Ek kan nie met Botha saamstem dat die berig Uys se bewerings as feite aangebied het nie. Die naaste wat dit moontlik daaraan kon gekom het, is die stelling dat Uys met regstappe gedreig het “as die boukontrakteur nie sy brouwerk op sy koste regmaak nie”. Hierdie is ‘n dreigement van Uys, met ‘n gepaardgaande motivering – dit stel dit as feit dat sy gedreig het, en verduidelik het waarom, maar dit stel dit nie as feit dat die bouer gebrou het nie.

Hierdie waarneming is in pas met die res van die artikel, wat telkens ‘n bewering aan ‘n bron (hetsy Uys, of die een of ander dokument) toedig.

Rapport was binne sy reg om oor hierdie saak te berig (afgesien van sy onderneming, waaroor ek reeds my mening uitgespreek het) – solank die koerant nie Uys se weergawe as evangelie voorgehou het nie (wat inderdaad níé gebeur het nie).

Gebalanseerd: Omdat Rapport nie gehou het by sy onderneming om eers Vbuild se kommentaar te vra voordat die koerant gepubliseer het nie, kan die beriggewing nie as gebalanseerd beskou word nie – die rapportering van die maatskappy se ontkenning van aandadigheid aan die skade (soos in hofstukke opgeneem) ten spyt.

Kwaadwillig; misleidend

Wichmann verwerp die bewering dat die artikel kwaadwillig en misleidend was. Sy sê Rapport het die inligting akkuraat weergegee wat daardie stadium aan die joernalis bekend was, en het die weergawe van albei partye so volledig moontlik gestel.

Sy argumenteer: “Rapport kan nie verslaggewing opsy sit bloot omdat dit ongemaklik is vir sekere partye nie of, soos VBuild aanvoer, omdat die dispuut nog nie afgehandel is nie. Daar is ernstige bewerings gemaak teen die klaer en bewyse daarvan is verskaf. Die insinuasie dat Rapport ? sogenaamde vendetta teen die klaer het, is onwaar.  Rapport wil eenvoudig gebalanseerde berigte lewer op sake wat van openbare belang is.”

Botha sê die berig was inderdaad kwaadwillig – as Rapport sy onderneming gestand gedoen het, kon Vbuild die koerant van dokumentasie voorsien het wat Uys se weergawe van gebeure sou weerlê het.

Ontleding

“Kwaadwilligheid” is ‘n uiters ernstige aanklag en, veral gegee Rapport se argument dat Vbuild moontlik die publisering van die berig sou wou verhinder, kan ek nie die koerant se besluit om voort te gaan aan kwaadwilligheid toeskryf nie.

Bevinding

Onderneming oor publisering, kommentaar

Die klag wat verband hou met die onderneming wat De Klerk in paragraaf 6(a) gegee het, word van die hand gewys.

Die klag wat verband hou met die onderneming wat De Klerk in paragraaf 6(b) gegee het, word gehandhaaf. Dit verbreek die volgende artikels van die Perskode:

·         1.1: “The media shall take care to report news … fairly”;

·         1.2: “News shall be presented in context and in a balanced manner…”;

·         1.8: “The media shall seek the views of the subject of critical reportage in advance of publication…”; en

·         3.3: “The media shall exercise care and consideration in matters involving … reputation…”

Artikel se inhoud

Die klag dat die storie bewerings as feite gestel het, en dat die storie onakkuraat was, word van die hand gewys.

Ek het reeds teen Rapport bevind oor die klag dat die berig ongebalanseerd was deurdat Vbuild se kommentaar nie verkry is vóór publikasie nie (ondanks ‘n onderneming tot dié effek).

Kwaadwillig; misleidend

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Erns van oortreding(s)

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van die Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3). Die verbrekings van die Kode soos hierbo aangedui, is almal Vlak 2-oortredings.

Optrede

Rapport word versoek om Vbuild:

·         om verskoning te vra oor die feit dat die koerant sy onderneming teenoor dié maatskappy verbreek het deur ‘n berig te plaas sonder om eers die bouers om hul kommentaar te nader; en

·         se kommentaar by die verskoning in te werk, met dien verstande dat dit nie ‘n redelike perk oorskrei in terme van die aantal woorde nie en dit ook nie enige lasterlike bewerings bevat nie.

Die teks moet:

·         gepubliseer word bo-aan:

o   bladsy 4;

o   dieselfde bladsy, in alle webtuistes waar die storie gepubliseer is;

·         begin met die verskoning;

  • verwys na die klag wat by hierdie kantoor ingedien is;
  • eindig met die sin, “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding”; en
  • deur my goedgekeur word.

Die opskrifte moet die woorde “verskoning” of “apologie”, asook Vbuild se naam bevat.

Appèl

Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombud