Adam vs. Eikestadnuus
OPSOMMING
Die opskrif van die storie was, Aanrandingsaak hervat: Adams vs. Thorpe (gepubliseer op 16 Mei 2013).
Hierdie bevinding van Persombud Johan Retief was gebaseer op die Perskode wat voor 30 September 2022 gegeld het.
Die storie sê dat Franklin Adams en Cedric Thorpe, die plaaslike hoof- wetstoepasser, mekaar weer die stryd gaan aansê nadat ‘n vier jaar-oue aanrandingsaak hervat is.
Adams kla dat:
- die storie verkeerdelik berig het dat hy Thorpe te lyf sou gegaan het en ook dat hy met beamptes in Jamestown slaags sou geraak het;
- die opskrif feitelik verkeerd is – die saak was nie “Adams vs. Thorpe” nie, maar “Staat vs. Thorpe”;
- die koerant hom nie om kommentaar gevra het nie; en
- hy moes pleit by die publikasie om sy briewe gepubliseer te kry.
Retief het die klag van die hand gewys, onder meer omdat:
- relevante dokumentasie daarop gedui het dat die landdroshof nooit besluit het dat daar geen vuisgeveg tussen Adams en Thorpe was nie – slegs dat Adams onskuldig bevind is aan aanranding. ‘n “Vuisgeveg” is nie noodwendig identies aan “aanranding” nie;
- die storie gesê het dat Adams onskuldig bevind en vrygespreek is op ‘n klag van aanranding (en nie op ‘n klag van ‘n vuisgeveg nie);
- dit waar was dat daar fisieke kontak van ‘n kwaadaardige aard tussen Adams en Thorpe was, wat deur die Polisie gehanteer is;
- die skopus van die stelling dat Adams met wetstoepassers slaags geraak het, gegaan het oor wat vantevore berig is;
- die verkeerde verwysing na die saak as “Adams vs. Thorpe” geen wesenlike verskil aan die inhoud van die storie gemaak het nie;
- die koerant Adams nie om kommentaar gevra het nie omdat dit ‘n hofberig was; en
- die Ombud nie kon inmeng in redaksionele besluite van ‘n publikasie nie.
DIE BEVINDING
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Franklin Adams, ‘n Stellenbosch People’s Alliance-raadslid, en prof. George Claassen, Ombudsman vir Media24 Gemeenskapskoerante (waarby Eikestadnuus geïnkorporeer is).
Klag
Mnr. Franklin Adams kla oor ‘n storie in Eikestadnuus, gepubliseer op 16 Mei 2013 onder die opskrif “Aanrandingsaak hervat: Adams vs. Thorpe”.
Hy kla dat:
- sowel die storie as die opskrif feitelik verkeerd is;
- die koerant hom nie om kommentaar gevra het nie; en
- hy moes pleit by die publikasie om sy briewe gepubliseer te kry.
Ontleding
Die storie, geskryf deur Samantha van den Berg, sê dat Adams en mnr. Cedric Thorpe, die plaaslike hoof- wetstoepasser, mekaar weer die stryd gaan aansê nadat ‘n vierjaar-oue aanrandingsaak hervat is.
Storie, opskrif verkeerd
Adams kla dat die journalist na verskeie ongetoetste voorvalle verwys het en dat haar feite verkeerd was.
Hy verwys in hierdie verband na die stellings dat hy:
- Thorpe te lyf sou gegaan het (hy ontken dit, en sê dat eersgenoemde so in die landdroshof bewys is); en
- met beamptes in Jamestown slaags sou geraak het.
Adams kla ook dat die opskrif verkeerdelik gesê het die saak was ‘Adams vs. Thorpe’, terwyl dit eerder ‘Staat vs. Thorpe’ moes gewees het.
Claassen sê:
- Adams is korrek dat die hof hom onskuldig bevind het aan aanranding – die storie moet egter in konteks gesien word word (hy sê Thorpe se saak teen Adams is teruggetrek, dit is onduidelik wie vir wie geslaan het, en die kans dat Adams se saak teen Thorpe sal voorgaan, is maar skraal);
- Die koerant het sy beriggewing oor die voorval op Jamestown op vorige berigte gegrond (wat toe nie deur Adams betwis is nie); en
- Die opskrif het die storie korrek weerspieël, en hoewel die saak wel “Staat vs. Thorpe” behoort te heet, was dit steeds Adams wat die kriminele klag teen hom gelê het.
Ek reageer puntsgewys op bogenoemde:
Adams, Thorpe in geveg betrokke
Hier is my oorwegings:
- Gegrond op dokumentasie wat die partye aan my beskikbaar gestel het, het die landdroshof nooit besluit dat daar geen vuisgeveg tussen Adams en Thorpe was nie – slegs dat Adams onskuldig bevind is aan aanranding. ‘n “Vuisgeveg” is nie noodwendig identies aan “aanranding” nie;
- Van den Berg het inderdaad berig dat Adams onskuldig bevind en vrygespreek is op ‘n klag van aanranding (en nie op ‘n klag van ‘n vuisgeveg nie); en
- Die koerant het op 3 April 2009 ‘n reeks foto’s geplaas wat daarop gedui het dat daar ten minste fisieke kontak van ‘n kwaadaardige aard tussen Adams en Thorpe was, wat deur die Polisie gehanteer is.
Gegrond op bogenoemde oorwegings, vind ek geen fout met hierdie deel van die storie nie.
Jamestown
Die storie sê die volgende oor hierdie saak: “Eikestadnuus het op 3 April 2009 berig dat Adams sedert ‘n vorige voorval by ‘n blommefees in Jamestown – waar hy ook met wetstoepassers slaags geraak het…”
Hoewel daardie berig (in 2009) die onderonsie as ‘n feit gestel het, het Adams nie toe daarteen beswaar gemaak nie.
Hoe dit ook al sy, ek lees die gedeelte ná die aandagstreep (soos hierbo aangehaal) in konteks met dit wat direk daaraan voorafgegaan het, naamlik die verwysing na die koerant se berig in 2009. Dit beteken dat hierdie sinsnede niks meer sê as vantevore nie, en ook dat die skopus van die sin gaan oor dit wat destyds berig is.
Ek meen dus dat hierdie deel van die klag geen grond het nie.
Opskrif: ‘Adams vs. Thorpe’
Die opskrif verwys wel verkeerdelik na die saak as “Adams vs. Thorpe”. Dit maak egter geen wesenlike verskil aan die inhoud van die storie nie. Die koerant is ook korrek om te sê dat dit inderdaad Adams was wat die saak teen Thorpe aanhanging gemaak het.
Nie gevra vir kommentaar
Adams kla dat die joernalis hom nie om kommentaar genader het nie.
Claassen se verweer is dat die storie hofverslaggewing was en dat die joernalis daarom niemand om kommentaar genader het nie. Adams se saak teen Thorpe was steeds hangende, en daarom was dit sub judice – hy redeneer dat dit ‘n basiese joernalistieke beginsel is om nie in te meng in ‘n hofsaak wat nog nie afgehandel is nie.
Die koerant se argument is korrek – die verslaggewer se optrede is normale joernalistieke praktyk.
Pleit om briewe gepubliseer te kry
Adams kla dat hy moet soebat om sy briewe in Eikestadnuus geplaas te kry. Hy sê dat die koerant hom gereeld inlig dat die inhoud van sy briewe lasterlik is, “maar met geen bewyse nie”. Hy argumenteer dat dit bloot ‘n poging is om sy vryheid van mening te skend en om sekere instansies, soos die munisipaliteit, te beskerm.
Ek ignoreer die argument oor laster asook oor die “verhouding” tussen Adams en Eikestadnuus (albei kante het iets daaroor te sê) omdat dit doodgewoon irrelevant is – elke koerant het die reg om te publiseer wat hy wil. Hierdie kantoor kan op geen manier met daardie reg van die redakteur inmeng nie.
Bevinding
Die klag word van die hand gewys.
Appèl
Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, Regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by [email protected] bereik word.
Johan Retief
Persombudsman