Andrew Scholtz vs. Volksblad
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Retief Koekemoer, vir mnr. Andrew Scholtz, en Volksblad.
Klag
Scholtz kla oor twee stories in Volksblad, onderskeidelik gepubliseer op 13 Mei en 16 Julie 2013 onder die opskrifte Ontwikkelaar van Bloemfontein en vrou ‘hopeloos bankrot’; en Bfn-ontwikkelaar gedagvaar vir skuld. Albei stories is deur Mike van Rooyen geskryf.
Oor die eerste storie Scholtz kla dat die:
- stelling dat hy en sy vrou “hopeloos bankrot” is, feitelik verkeerd en misleidend is; en
- storie geplaas is nog voordat die aansoek om ‘n hofsaak op die hofrol verskyn het.
Hy kla oor die tweede storie dat die:
- storie verkeerdelik gesê het dat die saak deur Standard Bank teen hom voortgaan;
- koerant die indruk skep dat hy ‘n vendetta teen hom voer deur voortdurend onware stories oor sy geldsake te publiseer; en
- publikasie dalk (hy stel dit as ‘n vraag, en nie as ‘n stelling nie) rassisties teenoor hom optree omdat hy ‘n persoon van kleur is.
Opmerking: Scholtz meld in albei gevalle dat die stories deurspek is van onwaarhede. Ek kan nie sulke veralgemenings hanteer nie, daarom beperk ek myself tot die spesifieke sake wat hy wel aangeroer het.
Ontleding
Die eerste storie haal hofstukke van Investec Bank aan wat na berig word sê dat Scholtz en sy vrou altesame R98 miljoen skuld, waarvan R31 miljoen aan dié bank moet gaan. Die bank doen glo aansoek om die egpaar voorlopig bankrot te laat verklaar. Die bank sê ook dat Scholtz-hulle “hopeloos bankrot” is.
In die tweede storie skryf Van Rooyen dat Scholtz in sy persoonlike hoedanigheid vir R407 00 gedagvaar is vir geld wat sy bankrot maatskappy Aralella aan Standard Bank verskuldig is nadat hy borg daarvoor geteken het. Die verslaggewer herhaal ook Investec se aantyging dat Scholtz hopeloos bankrot is.
Eerste storie
‘Hopeloos bankrot’
Die sin in dispuut lui: “Hulle (die Scholtz-egpaar) is ‘hopeloos bankrot’, aldus Investec”.
Scholtz ontken hierdie aantyging en voeg by dat hy “geen gelde aan Investec Bank verskuldig is nie”. Dit geld ook sy vrou en enige van sy familie-trusts.
Volksblad sê dat hy hierdie inligting uit hofstukke bekom het en dat dit onder meer gegrond was op syfers van Scholtz se bates en laste wat hy self aan die bank beskikbaar gestel het. Die vraag of Scholtz wel bankrot is, is ‘n saak vir die hof, voer die koerant aan.
Ek let op dat die storie nie dit as ‘n feit gestel het dat die Scholtze die geld skuld of dat hulle hopeloos bankrot is nie – hierdie inligting kom uit die hofstukke wat Investec ingedien het. Die storie het dit as sodanig aangebied, en nie as feit nie. Ek het die relevante hofstukke hieroor aangevra en is tevrede dat die koerant hieroor korrek berig het.
Voortydig gepubliseer
Scholtz kla dat die koerant die storie geplaas het nog voordat Investec se aansoek op die hofrol verskyn het. Hy voeg by dat dié aansoek na alle waarskynlikheid teruggetrek sal word. Hy sê ook dat dit die koerant se beleid is om geen berig te plaas voordat ‘n aansoek of ‘n saak nie in die hof gedien het nie. In hierdie geval is daar volgens hom voortydig berig “wat tot gevolg het dat verkeerde feite aan die publiek geopenbaar is” en dat dít tot sy ernstige nadeel was.
In ‘n latere skrywe (2 September 2013) bevestig hy dat Investec hierdie aansoek teruggetrek het en dat die saak van die hofrol verwyder is.
Volksblad:
- sê dat die aansoek wel op die hofrol van 9 Mei 213 was (met ander woorde, vóór publikasie van die berig), maar dat die saak uitgestel is. “Die aansoek is wel nie finaal bereg nie, waar WAS al op ‘n hofrol en daar WAS al ‘n bevel daaroor in die hof gegee”;
- ontken dat die aansoek van Investec intussen van die hofrol verwyder is. Die publikasie sê dat mnr. Pieter Badenhorst (prokureurs EG Cooper Majiedt Ing, en korrespondent van Werkmans-prokureurs in Johannesburg) op 4 September ten sterkste ontken het dat die saak van die hofrol verwyder is; en
- vra waar sy sogenaamde “beleid” vandaan sou kom – die publikasie voer aan dat verskeie faktore ‘n rol speel in die besluit om te publiseer of nie, soos onder meer die nuuswaarde van ‘n saak. Die koerant argumenteer ook dat, sou hy eers kon berig oor strafregtelike sake nadat beregtiging afgehandel is, hy homself in ‘n hoef sou vasverf. Hy haal sake soos dié van Oscar Pistorius en die destydse Jacob Zuma-verkragtingsaak aan om sy punt te staaf.
Bogenoemde argument raak die hart van hofverslaggewing. As hierdie kantoor sou besluit dat ‘n publikasie nie oor hofsake mag rapporteer voordat die hof nie tot ‘n finale uitspraak gekom het nie, sou dit inderdaad die vrye vloei van inligting beperk en die vryheid van uitdrukking ingeperk het. Dit sou ongrondwetlik en, gesien vanuit hierdie kantoor se perspektief, oneties wees.
Dit kán en mág inderdaad nie gebeur nie.
‘n Tweede saak raak die konwekwentheid van Scholtz se argument. Aan die een kant sê hy dat Investec die saak teen hom teruggetrek het (in sy skrywe van 2 September), maar in sy formele reaksie op Volksblad se terugvoer op sy klag aan hierdie kantoor (op 9 Oktober) voer hy aan dat Investec tans besig is met ‘n ondersoek om die korrektheid van die bedrae in hul aansoek te bepaal. “Die aangeleentheid is…uitgestel deur die aansoekers om eers hul huis in orde te kry voordat daar enigsins verder met hierdie aansoek gehandel sal word.”
As woorde betekenis het, is hierdie saak nog nie teruggetrek en van die hofrol verwyder nie, soos Scholtz aanvoer. Ek kan daarom nie sy argument in hierdie verband aanvaar nie.
Tweede storie
Standard Bank
Die storie sê dat Scholtz in sy persoonlike hoedanigheid vir R407 000 gedagvaar is vir geld wat die bankrot maatskappy (Aralella, waarvoor hy borg geteken het) aan Standard Bank verskuldig is. Van Rooyen voeg by dat die bank op 1 Augustus sou vooraan om ‘n summiere vonnis teen Scholtz aansoek te doen.
Scholtz erken dat Standard Bank hom vir daardie bedrag aanspreeklik gehou het, maar sê
dat die saak reeds buite die hof geskik is – daar is dus geen sprake daarvan dat die bank met sy aksie teen Aralella voortgaan nie. In dieselfde korrespondensie van 2 September bevestig hy dat ook hierdie saak van die hofrol verwyder is, en argumenteer dat Van Rooyen weer eens ‘n storie voortydig geplaas het.
Volksblad ontken weer dat hy “voortydig” was, en sê dat die koerant op 16 Augustus “ingevolge goeie opvolgjoernalistiek en uit eie inisiatief” berig het dat hierdie saak buite die hof geskik en daarom van die hofrol verwyder is.
Hierdie opvolgstorie het sake inderdaad in perspektief gestel, en hierdie kantoor kan nie méér van Volksblad verwag nie.
Vendetta
Scholtz sê dat Van Rooyen “voortdurend” onwaarhede oor sy geldsake publiseer (hy het glo in die afgelope 18 maande altesame 33 stories oor hom laat verskyn), wat dit wil laat voorkom of hy ‘n vendetta teen hom voer. In die skrywe van 2 September noem hy hierdie beriggewing “kwaadwillig” en stel hy die “vendetta” as ‘n feit.
Die koerant ontken hierdie bewerings kategories en sê: “…Volksblad is nie die bron van die ‘negatiewe publisiteit’ vir mnr. Scholtz nie. [Hy] – as eienaar van sy verskeie trusts – is self die bron daarvan.”
Ek het geen getuienis tot my beskikking om tot die gevolgtrekking te kom dat die koerant wel ‘n “vendetta” teen Scholtz voer nie. Hy is ‘n openbare figuur en, tot sover ek kon vasstel, was Volksblad geregtig om oor sy geldsake te berig.
Rassisties
Scholtz vra of die koerant rassisties teenoor hom optree omdat hy ‘n persoon van kleur is.
Volksblad verwerp hierdie “aantyging” en meen dat dit “laakbaar” en “selfs lasterlik” kan wees.
Ek het hoegenaamd geen grond om te besluit dat Volksblad rassisties was in sy beriggewing oor Scholtz nie.
Bevinding
Die klag word volledig van die hand gewys.
Aansoek om verlof tot appèl
Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by [email protected] bereik word.
Johan Retief
Persombudsman