Elize Perrin vs. Sarie
OPSOMMING
Die opskrif van die storie was, Altyd ‘n stukkie drama (gepubliseer in April 2017 ).
Hierdie bevinding van Persombud Johan Retief was gebaseer op die Perskode wat voor 30 September gegeld het.
Die artikel gaan oor die klere-ontwerper Floris Louw wat die sanger Nataniël se “fabelagtige kostuums” al vir vyftien jaar ontwerp het.
Elize Perrin kla dat die joernalis plagiaat gepleeg het deur haar (Perrin se) werk as haar eie aan te bied, sonder die nodige erkenning.
Retief het gesê hy het geen rede om Sarie se verduideliking te betwyfel dat die tydskrif ‘n soortgelyke artikel beplan het (as deel van ‘n groter poging om Nataniël se dertigste jaar in die vermaaklikheidswêreld te vier) – gegee die jarelange verbintenis tussen die tydskrif en die kunstenaar.
Nadat die Ombud Perrin en die joernalis se tekste met mekaar vergelyk het, het hy bevind dat dit grootliks van mekaar verskil het. Die ooreenkomste wat daar wel was (hy noem enkeles), was gering en, na sy mening, waarskynlik toevallig.
Vir ‘n ernstige klag soos plagiaat het hy redelike bewyse nodig om dit te staaf – wat in hierdie geval nie bestaan nie, het Retief gesê.
Die klag is van die hand gewys.
DIE BEVINDING
Hierdie bevinding is gebaseer op die skrywes van me. Elize Perrin en dié van Michélle van Breda, redakteur van die tydskrif Sarie.
Perrin kla oor die artikel in Sarie in April 2017 onder die opskrif, Altyd ‘n stukkie drama.
Klag
Perrin kla dat die joernalis Suzette Truter plagiaat gepleeg het deur haar (Perrin se) werk as haar eie aan te bied.
Die teks
Die artikel gaan oor die klere-ontwerper Floris Louw wat die sanger Nataniël se “fabelagtige kostuums” al vir vyftien jaar ontwerp het.
Die argumente
Perrin sê die idee en ‘n groot deel van die inligting in Truter se artikel is haar werk. Sy het haar artikel op 16 November 2016 aan Sarie gestuur met die oog op moontlike publikasie. Die tydskrif het bevestig dat haar teks aan Truter gegee is, wat terugvoer sou gee. Dit het egter nooit gebeur nie; inteendeel, die joernalis het haar eie artikel geskryf, en in dié proses ‘n groot deel van haar navorsing daarvoor gebruik.
Van Breda voer aan dat Sarie:
· reeds vir 16 jaar ‘n professionele verhouding met Nataniël het, en dat hy onder meer ‘n gekontrakteerde rubriekskrywer vir die tydskrif is;
· gereeld artikels oor die kunstenaar plaas;
· vir 2017 beplan het om verskillende artikels oor Nataniël te plaas ter viering van sy dertigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf – wat ‘n onderhoud met Louw sou insluit (wat die afgelope vyftien jaar reeds sy kostuums maak);
· inligting oor laasgenoemde verkry het deur ‘n “regstreekse, omvattende onderhoud met Louw”, wat langer as ‘n uur geduur het. Verdere inligting is boonop versamel, sketse en foto’s is bekom, en kommentaar van Nataniël is verkry; en
· die finale teks van die artikel aan Louw voorgelê het, wat enkele wysigings aangebring voordat hy dit afgeteken het.
Die redakteur beklemtoon dat alle inligting in die betrokke artikel regstreeks van Louw en Nataniël bekom is. Sy sê ook dat verskeie van Louw “se antwoorde en woordkeuse op intreevlak-joernalistieke vrae (soos bv. hoe Louw en Nataniël begin saamwerk het, sy kinderjare, werkwyse, gunsteling uitrustings ens.) ‘n groot mate van ooreenstemming toon in onderhoude met hom wat die afgelope jare gepubliseer is”.
Van Breda sê ook dat Perrin se artikel nie deur Sarie aangevra of oorweeg is nie.
In Perrin se reaksie op bogenoemde maak sy veel van Sarie wat nie van vryskutjoernaliste gebruik maak nie, en dat sy nooit dienooreenkomstig ingelig is nie. Sy wil ook weet hoekom die tydskrif haar nie ingelig het dat ‘n soorgelyke artikel beplan word nie (sy sê sy het haar artikel reeds in November verlede jaar aan Sarie gestuur, terwyl Truter eers in Januarie vanjaar met Louw kontak gemaak het).
Sy hou vol dat die woordelikse ooreenkomste tussen haar en Truter se tekste nie toevallig kon gewees het nie.
Ontleding
Die kwessie van vryskutjoernaliste en die feit dat Sarie nie vir Truter ingelig het dat die tydskrif ‘n soortgelyke artikel beplan nie, val buite my jurisdiksie.
My enigste vraag is of ek met redelike sekerheid kan sê dat Sarie plagiaat gepleeg het deur Perrin se idee en dele van haar navorsing sonder die nodige erkenning te gebruik het.
Idee: Ek het geen rede om Van Breda se verduideliking te betwyfel dat Sarie ‘n soorgelyke artikel beplan het (as deel van ‘n groter poging om Nataniël se dertigste jaar in die vermaaklikheidswêreld te vier) – gegee die jarelange verbintenis tussen die tydskrif en die kunstenaar is dit redelik om te aanvaar dat Sarie sodanige beplanning sou doen.
Die teks: Perrin en Truter se tekste verskil grootliks van mekaar. Die ooreenkomste wat daar wel is, is gering en, na my mening, waarskynlik toevallig. Een so ‘n ooreenkoms is Louw se eerste uitrusting wat hy vir Nataniël gemaak het – maar dit is ‘n joernalistiek-101-vraag, wat sekerlik op die tong van enige joernalis sou gelê het. ‘n Ander is die gebruik van die woord “fabelagtig” om Louw se ontwerpe mee te beskrywe – wat, weer eens, geen buitengewone insig geverg het nie.
Ek neem ook kennis van die telefoongesprek tussen Sarie en Louw, wat heelwat langer as ‘n uur geduur het (die telefoon-staat wat aan my verskaf is, is ‘n bewys hiervan), asook van korrespondensie wat daarna plaasgevind het.
Bevinding
Vir ‘n ernstige klag soos plagiaat het ek redelike bewyse nodig om dit te staaf – wat in hierdie geval nie bestaan nie. Nie eens naastenby nie. Die klag word van die hand gewys.
Appèl
Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by [email protected] bereik word.
Johan Retief
Persombud