Marizka Coetzer vs. Rapport
OPSOMMING
Die opskrifte van die stories was, Tydskrif-joernalis verlief op afspraakmoordenaar (voorblad); Joernalis verlief op ‘n tronkvoël – Huisgenoot-skrywer geskors oor verhouding met moordenaar (bl. 3). Dit was gepubliseer op 25 November 2018.
Hierdie bevinding van waarnemende Assistent-persombud Johan Retief was gebaseer op die Perskode wat voor 30 September gegeld het.
Die storie handel oor ‘n liefdesverhouding tussen Marizka Coetzer, ‘n voormalige Huisgenoot-joernalis, en Le Roux Steyn, wat tronkstraf uitdien nadat hy skuld beken het in die sogenaamde Krugersdorp-afspraak-moordsaak.
Coetzer se hoofklag is dat Rapport dit as ‘n feit gestel het dat sy liefde gevind het by Steyn.
Sy kla ook dat die:
- storie valslik berig het dat haar huwelik verbrokkel het;
- joernalis haar nie om kommentaar genader het nie; en
- artikel nie in die openbare belang was nie.
Rapport het meer as twintig Whatsapp-boodskappe van Coetzer aan Retief beskikbaar gestel wat dit duidelik gemaak het dat sy inderdaad verlief was op Steyn. Woorde het betekenis, en dit help nie om agterna te probeer om ander betekenisse daaraan te heg nie, soos wat Coetzer doen, het hy opgemerk. “Gegee die inhoud van die Whatsapp-boodskappe, kan ek nie Rapport verkwalik dat hy hierdie bewering as bewering gepubliseer het nie.”
Die Ombud het ook gesê dat die storie dit nie as ‘n feit gestel het dat Coetzer se huwelik verbrokkel het nie – dit het berig dat dit “glo” die geval is.
Hy het bygevoeg:
- Op 23 November, twee dae voor publikasie, het die joernalis ‘n uitvoerige epos aan Coetzer gestuur waarin sy haar verskeie vrae oor haar verhouding met Coetzer gevra het. “Ek vind dit totaal onverstaanbaar dat sy hoegenaamd hierdie klag (oor kommentaar wat kwansuis nie gevra is nie) ingedien het,” het die Ombud gesê; en
- Wanneer iemand verlief raak op ‘n moordenaar wat tronkstraf uitdien, is dit gewoonlik nuus. In hierdie geval nog meer so, omdat Coetzer ‘n boek oor Steyn geskryf het. het Die publiek het tog sekerlik die reg om te weet vanuit watter hoek sy dié saak benader, het hy geargumenteer.
Die klag is van die hand gewys.
DIE BEVINDING
Datum van artikel: 25 November 2018
Opskrif: Tydskrif-joernalis verlief op afspraakmoordenaar (voorblad); Joernalis verlief op ‘n tronkvoël – Huisgenoot-skrywer geskors oor verhouding met moordenaar (bl. 3)
Skrywer van artikel: Jana Smit
Respondent: Alet Wichmann, Rapport se interne ombud
Klag
Coetzer se hoofklag is dat Rapport dit as ‘n feit gestel het dat sy liefde gevind het by Le Roux Steyn.
Sy kla ook dat die:
· joernalis:
o valslik berig het dat haar huwelik verbrokkel het;
o haar nie om kommentaar genader het nie; en
· storie nie in die openbare belang was nie.
Die teks
Die storie handel oor ‘n liefdesverhouding tussen Coetzer, ‘n voormalige Huisgenoot-joernalis, en Steyn, wat tronkstraf uitdien nadat hy skuld beken het in die sogenaamde Krugersdorp-afspraak-moordsaak.
Ontleding
Liefde gevind
Rapport het meer as twintig Whatsapp-boodskapp van Coetzer aan my beskikbaar gestel wat dit glashhelder duidelik maak dat sy inderdaad verlief was op Steyn.
Woorde het betekenis, en dit help nie om agterna te probeer om ander betekenisse daaraan te heg nie, soos wat Coetzer doen.
Ek gaan haar die verleentheid spaar deur nie dele daarvan hier aan te haal of die argumente in dié verband te dokumenteer nie. Dis genoeg om te sê dat die koerant inderdaad geregverdig was in sy beriggewing, en dat die bewyse daarvoor oorweldigend is.
Terloops, ek waardeer dit dat Rapport ook nie uit die Whtsapp-boodskappe aangehaal het nie.
Huwelik verbrokkel
Die storie stel dit nie as feit dat Coetzer se huwelik verbrokkel het nie – Smit het berig dat dit “glo” die geval is.
Gegee die inhoud van die Whatsapp-boodskappe, kan ek nie Rapport verkwalik dat hy hierdie bewering as bewering gepubliseer het nie.
Kommentaar
Op 23 November, twee dae voor publikasie, het Smit ‘n uitvoerige epos aan Coetzer gestuur waarin sy haar verskeie vrae oor haar verhouding met Coetzer gevra het. Ek vind dit totaal onverstaanbaar dat sy hoegenaamd hierdie klag ingedien het.
Openbare belang
Wanneer iemand verlief raak op ‘n moordenaar wat tronkstraf uitdien, is dit gewoonlik nuus. In hierdie geval nog meer so, omdat Coetzer ‘n boek oor Steyn skryf. Die publiek het tog sekerlik die reg om te weet vanuit watter hoek sy dié saak benader.
Bevinding
Die klag word van die hand gewys.
Appèl
Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by [email protected] bereik word.
Johan Retief
Persombud