Jan Blohm vs. Rapport
OPSOMMING
Die opskrif van die storie was, Draf is Jan se nuwe dwelm (Jogging is Jan’s new drug). Dit was gepubliseer op 20 Mei 2018.
Hierdie bevinding van Persombud Johan Retief was gebaseer op die Perskode wat voor 30 September gegeld het.
Die storie gaan oor die sanger Jan Blohm, wat jare lank met verslawing (veral aan drank) geworstel het, en wat sy lewe nou so omgedraai het dat hy aan’t oefen was vir die Comrades-marathon. Volgens hom was hy 24 jaar lank in en uit rehabilitasiesentrums, maar nou het hy uiteindelik iets gevind wat vir hom werk – draf. Die berig eindig soos volg: “En kyk, as ek nou aan draf verslaaf raak, is die kans dat dit my kan doodmaak skraal. Dit kan my dalk net tot by die Comrades help.”
Blohm kla dat die opskrif onverantwoordelik is omdat dit sy pogings om sy beeld te herbou teenwerk, en omdat dit “haatvol” is.
Retief het bevind dat die opskrif nie ‘n redelike weerspieëling van inhoud van die berig was – Blohm het nie gesê draf “is” sy nuwe dwelm en “dat” hy daaraan verslaaf geraak het nie; hy het bloot gesê “as” hy daaraan verslaaf raak.
“Rapport het in die opskrif daarom ‘n moontlikheid tot ‘n werklikheid verhef,” het hy gesê – wat inderdaad nie ‘n redelike weerspieëling van die berig was nie, en kennelik ook nie Blohm se bedoeling met sy uitspraak redelik verwoord het nie.
Rapport moes Blom om verskoning vra dat die opskrif nie die berig redelik en billik weerspieël het nie, en daarom hom onnodige skade kon berokken het.
Die klag dat die opskrif “haatvol” was, is van die hand gewys.
DIE BEVINDING
Klaer
|
Jan Blohm
|
Datum van artikel
|
20 Mei 2018 |
Opskrif
|
Draf is Jan se nuwe dwelm |
Bladsy
|
3 |
Webblad
|
Ja |
Respondent
|
Alet Wichmann, Rapport se interne ombud |
Klag
Die sanger Jan Blohm (39) kla dat die opskrif onverantwoordelik is omdat dit sy pogings om sy beeld te herbou teenwerk, en omdat dit “haatvol” is.
Hy sê hy het die inhoud van die berig goedgekeur – met die opskrif “Jan Blohm in blom” of “Jan Blo(h)m weer”.
Die teks
Die storie gaan oor Blohm, wat jare lank met verslawing (veral aan drank) geworstel het, en wat sy lewe nou so omgedraai het dat hy aan’t oefen was vir die Comrades-marathon (in 2020). Volgens hom was hy 24 jaar lank in en uit rehabilitasiesentrums, maar nou het hy uiteindelik iets gevind wat vir hom werk – draf.
Die berig eindig soos volg: “En kyk, as ek nou aan draf verslaaf raak, is die kans dat dit my kan doodmaak skraal. Dit kan my dalk net tot by die Comrades help.”
Ontleding
Wichmann sê Blohm se eerste klag is dat hy die opskrif nie goedgekeur het nie.
Ek meen dat dit nie heeltemal korrek is nie – die klag gaan nie soseer oor hoe die opskrif níé gelui het nie, maar eerder oor hoe dit wél geformuleer is.
Ek bepaal my daarom by laasgenoemde.
Die interne ombud sê die opskrif was geskoei op Blohm se eie woorde in die laaste paragraaf van die berig (soos hierbo aangehaal), en het daarom bloot die inhoud van die storie weerspieël. Boonop was die opskrif in goeie gees geskryf – en lesers se kommentaar daarop was oorweldigend positief, sê sy.
Wichmann voeg by dat draf gereeld as ‘n “goeie dwelm” beskryf word omdat dit goedvoel-hormone afskei wat jou gemoed positief beïnvloed. “Dit is dus duidelik dat die opskrif ook geensins kwaadwillig is nie,” sluit sy af.
Blohm se reaksie hierop is dat dit bloot onwaar is dat draf sy nuwe dwelm geword het.
My taak is om die Perskode as riglyn te gebruik om besluite oor die etiese aanvaarbaarheid, al dan nie, van verslaggewing te besluit.
Artikel 10.1 van die Kode sê dat opskrifte die inhoud van berigte redelik moet weerspieël. Die vraag is dus of dit wel die geval is.
Wichmann argumenteer dat die opskrif direk verband hou met die volgende sin: “En kyk, as ek nou aan draf verslaaf raak, is die kans dat dit my kan doodmaak skraal. Dit kan my dalk net tot by die Comrades help.”
Te oordeel na die letter van die Kode was die opskrif egter níé ‘n redelike weerspieëling van hierdie sin nie (en ook nie van die res van die berig nie) – Blohm het nie gesê draf “is” sy nuwe dwelm en “dat” hy daaraan verslaaf geraak het nie; hy bet bloot gesê “as” hy daaraan verslaaf raak.
Rapport het in die opskrif daarom ‘n moontlikheid tot ‘n werklikheid verhef – wat inderdaad nie ‘n redelike weerspieëling van die berig was nie, en kennelik ook nie Blohm se bedoeling met sy uitspraak redelik verwoord het nie.
Tweedens moet ek ook die gees van die Kode in ag neem. Nêrens is dit beter verwoord as in die voorwoord nie, wat sê die rede vir die media se bestaan is om die gemeenskap te dien – en dat die media in dié proses alle onnodige skade moet probeer vermy.
Ek is dankbaar Rapport sê die opskrif was in goeie gees geskryf. Ek aanvaar – onvoorwaardelik – dat dit nie kwaadwillig was nie. Ek neem ook in ag dat lesers positief op die beriggewing gereageer het.
Daarby moet ek egter ook Blohm se reaksie verreken, saam met die gees van die Kode (benewens dié van die koerant).
Ek kan doodeenvoudig nie verby die volgende kyk nie: Die berig het gegaan oor die regruk-aksie van ‘n 39-jarige man, wat 24 jaar lank met verslawing geworstel het en wat vir bykans ‘n volle jaar hom van drank onthou het in ‘n ernstige poging om sy verslawing hok te slaan.
Die trauma van bykans ‘n kwart-eeu van sodanige worsteling kan ek my kwalik voorstel.
Blohm het hard gewerk aan homself, en aan sy openbare beeld. En dan kom die opskrif: Hy is wéér verslaaf…
“Goeie bedoelings” kan hierdie terugslag nie vergoelik nie. Ja, draf kan ‘n “goeie” verslawing wees – maar uiteindelik is dit tog steeds (weer) verslawing…
In sulke omstandighede meen ek dat die opskrif onbillik teenoor hom was, en kan ek goed verstaan dat dit ‘n terugslag vir hom was.
Terwyl ek dus aanvaar dat Rapport nie slegte bedoelinge met die opskrif gehad het nie, en inteendeel die koerant loof vir die opbouende berig, moet ek terselfdertyd ook Blohm se belange in ag neem – en natuurlik ook die letter en gees van die Perskode.
Hierdie oortuigings sal in my sanksie hieronder uitdrukking vind.
Bevinding
Rapport het Art. 10.1 van die Perskode verbreek deurdat die opskrif nie ‘n redelike, en billike, weerspieëling van die inhoud van die berig was nie, en Blohm daarom onnodige skade kon berokken het.
Die klag dat die opskrif “haatvol” was, word van die hand gewys.
Erns van oortreding(s)
Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van die Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3). Die verbreking van die Kode soos hierbo aangedui, is ‘n Vlak 2-oortreding.
Sanksie
Rapport moet Blom om verskoning vra dat die opskrif nie die berig redelik weerspieël het nie, en daarom onbillik teenoor hom was en hom onnodige skade kon berokken het – terwyl die koerant vry is om te sê dat dit nie sy bedoeling was om dit te doen nie, en dat die Ombud dit so onvoorwaardelik aanvaar het.
Die teks moet:
· gepubliseer word op:
o bladsy 3, in dieselfde posisie as die berig waaroor gekla is;
o die koerant se webtuiste, bo-aan die betrokke berig;
- begin met die verskoning;
- verwys na die klag wat by hierdie kantoor ingedien is;
- eindig met die sin, “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding”;
- die Persraad se logo insluit; en
- deur my goedgekeur word.
Die opskrifte moet die woorde “verskoning” of “apologie”, asook “Blohm” bevat.
Appèl
Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by [email protected] bereik word.
Johan Retief
Persombud