Skip to main content

Adriaan Odendaal vs. Beeld


Fri, Jun 14, 2013

Bevinding deur die Persombudsman

14 Junie 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Adré Odendaal (van Odendaal & Summerton Ing.) en Beeld.

Klag

Mr Odendaal kla oor ‘n storie in Beeld, op 9 Maart 2013 onder die opskrif Midvaal: Kontrak bly – Gerugte kelder nie ooreenkoms.

Hy kla dat:

·         sowel die hoof-opskrif as die onder-kop misleidend en vals is; en

·         die stelling dat hy en sy firma (Odendaal & Summerton – OSI) onbehoorlik voordeel getrek het uit ‘n transaksie, onwaar is.

Ontleding

Die storie, geskryf deur Maryna Lamprecht, het gesê die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit doen nog sake met ‘n prokureursfirma van Meyerton wat betrek word by ernstige bewerings van korrupsie. “Dokumente in Beeld se besit wys dat die Midvaal-munisipaliteit opnuut ‘n diensleweringsooreenkoms met André Odendaal, voormalige DA voorsitter in Midvaal en eienaar van die regsfirma Odendaal & Summerton, gesluit het.”

Hoof-opskrif, onder-kop

Odendaal kla dat sowel die hoof-opskrif as die onder-kop misleidend en vals is. Hy sê dat hy Lamprecht meegedeel het dat sy kontrak op 30 Junie verval het. Hy voeg by dat hy daarna onsuksesvol vir invorderingswerk getender het. “Dit is misleidend en duidelik daarop gemik om voor te stel dat daar voortgegaan word met ‘onbehoorlike optrede’.” Hy bestempel die opskrifte as “karakter-moord”.

Beeld erken dat die opskrifte “tegnies verkeerd” was, aangesien ‘n nuwe kontrak met Odendaal in Oktober verlede jaar gesluit is. “Dit is wel…onverstaanbaar hoe dié opskrif mnr. Odendaal kon belaster het.”

Eerstens, die storie self praat van ‘n nuwe ooreenkoms wat gesluit was (tweede paragraaf) en nié van ‘n vorige kontrak wat sou “bly” nie. Die opskrif reflekteer daarom nie die inhoud van die storie nie.

Verder, ek meen dat die opskrif wel Odendaal se reputasie kon benadeel het. Die storie vertel immers ‘n verhaal van onbehoorlike voordeel (wat uit die vorige kontrak sou gespruit het – reg of verkeerd). As daardie kontrak dus sou “bly”, is die implikasie dat onbehoorlike optrede bes moontlik ook sou kon voortduur, tog duidelik daar.

Dit was dus meer as net ‘n “tegniese” fout.

Daar is niks fout met die onder-kop nie – daar was gerugte, daar was ‘n ooreenkoms, en die ooreenkoms is gesluit.

Onbehoorlik voordeel getrek

Die sin in dispuut lui: “Die openbare beskermer (OB) het in November 2011 die Midvaal-munisipaliteit oor die vingers getik weens wanbestur en bevind Odendaal en sy firma het onbehoorlik voordeel getrek uit die verkoop van eiendom wat aan die munisipaliteit oorgedra is in ruil vir skuld.” (eie beklemtoning)

Odendaal kla dat dié stelling onwaar is en voer aan dat dit hom belaster het. “Die Stadsraad het deur sy ouditeure en interne personeel ondersoek ingestel en bevind dat geen onreëlmatighede deur myself of deur my firma gepleeg is nie. Hierdie bevinding is deur die Raad goedgekeur en aan die Openbare Beskermer en die Premier van Gauteng gerapporteer.”

Beeld sê dat die OB inderdaad bevind het dat Odendaal persoonlik, asook sy firma, onbehoorlik baat gevind het by die manier waarop die skuldinvordering vir die munisipaliteit gehanteer is. “Die onbehoorlike optrede sluit in die verkoop van eiendom wat aan die munisipaliteit oorgedra moes word.”

Die koerant sê ook dat die storie die woord “onbehoorlik” gebruik het en nie “onreëlmatig” nie – onbehoorlik beteken bloot “nie soos dit behoort te wees nie.

Punt 9.7.1.2 van die betrokke verslag van die OB (bl. 99) lui soos volg: “It is not in dispute that Mr Odendaal, acting as service provider to collect outstanding debt owed to the Municipality…benefitted in his personal capacity from the purchase and subsequent sale of the property.”

Die sin onmiddellik daarna lui egter: “The question whether or not it was proper for Mr Odendaal to use information obtained as a service provider for his personal gain, is again a question of compliance with the relevant ethical and professional standards required of an attorney and should more properly be addressed by the relevant Law society.” (own emphasis)

Die kwessie is dus nie of Odendaal persoonlik voordeel getrek het uit transaksies nie, maar slegs of daardie voordeel “onbehoorlik” was.

Ek het die koerant daarom versoek om aan my uit te wys presies waar die verslag Odendaal se optrede as “onbehoorlik” beskryf (want dit is wat die storie beweer het).

Beeld kon dit nie doen nie, maar het geantwoord dat dit billik was om die tipe van manier waarop bevind is hy het opgetree “onbehoorlik” te noem – in konteks kan “onbehoorlik” daarom nie as verkeerd gesien word nie. “Sou iemand ‘n slegte idee van hom gekry het, sou dit beslis nie gewees het oor die woord onbehoorlik nie.”

Ek moes my daarom na die verslag self wend met die oog daarop om te sien of dit geregverdig was om te beweer dat die OB in die verslag “bevind” het dat Ondendaal “onbehoorlik” voordeel getrek het.

Let daarop dat Lamprecht dié stelling nie as ‘n bewering aangebied het nie, en dat sy dit ook nie aan ‘n bron toegedig het nie – sy het dit as ‘n feit gestel.

Hier is enkele aanhalings uit die verslag:

·         (a – ee, bl. 11): “The continuous and deliberate extension of ASI’s contract by the relevant Municipal Managers, in circumstances where OSI gained an unfair advantage over other prospective service providers by having access to information and influence over the procurement instruments…”;

·         9.3.7: “The advantage that OSI had over its competitors is that the firm or at least one of its major partners had the benefit of uninterrupted exposure to all business aspects, administration and specific projects as a result of continuous reappointment as a single service provider of the Municipality for over 30 years”;

·         9.3.8: “The benefits of having access to insider information and the extended opportunities to build specialized skills and knowledge about the Municipal operations, make it impossible to conclude that the playing fields were level for all prospective bidders…”;

·         9.3.9: “From a governance point of view the extended use of the same service provider (OSI) for the various services required by the Municipality and the resultant opportunity to influence the procurement instruments cannot be proper”;

·         9.6.4-5: “There was…basis for a perceived or potential conflice of interests between Odendaal and Summerton Inc’s position as attorneys for the Municipality and Mr Odendaal’s position as director of ALARN Concrete Products… a poorly managed perceived conflict of interest can be just as damaging as a poorly-managed actual conflict of interest”; and

·         12.5.4: “…the integrity of the Municipal administration may be compromised even when the conflict did not have an actual impact but could only have been perceived as having such an effect.”

Onder punt (d – dd) word ook geskryf dat ‘n eiendom wat gewaardeer was vir R118 000, deur ‘n maatskappy van Odendaal vir R10 000 gekoop  en toe vir R180 000 verkoop is. Die verslag sê dat hy persoonlik voordeel hieruit getrek het;

Ek let ook op dat die OB die vraag of die persoonlike voordeel wat Odendaal getrek het onbehoorlik was of nie, telkens verwys – sonder om self ‘n oordeel daaroor te vel. Byvoorbeeld, onder 13.2: “Allegations relating to the unethical or unprofessional conduct of the partners in the law firm of Odendaal and Summerton, are referred to the Law Society of the Northern Provinces…as the appropriate public body and authority to deal with matters emanating from this report…”

Gegrond op die voorafgaande inligting, is my gevolgtrekkings soos volg:

·         Die OB het nié bevind dat Odendaal oneties opgetree het nie, maar het eerder dié saak na ‘n regsinstansie verwys;

·         Die koerant was daarom verkeerd om te beweer dat die verslag “bevind” het dat hy onbehoorlik bevoordeel is – anders gestel: Die koerant het tot ‘n “bevinding” gekom waarvoor die OB self nie kans gesien het nie en waarvan die uitslag nog afgewag word; en

·         Uit die aanhalings hierbo kon die koerant wel tot die gevolgtrekking (interpretasie) gekom het dat daar aanduidings was dat Ondendaal moontlik onbehoorlik opgetree het. ‘n Versigtiger formulering was daarom nodig.

Bevinding

Hoof-opskrif, onder-kop

Die hoof-opskrif:

·         kon Odendaal se reputasie benadeel het omdat dit die voortsetting van onbehoorlike gedrag, sonder die nodige grond daarvoor, geïmpliseer het. Dit verbreek Art. 4.2 van die Kode: “Die pers sal sorg en oorweging aan die dag lê wat betref waardigheid en reputasie…”; en

·         het nie die inhoud van die storie gereflekteer nie. Dit verbreek Art. 10.1 van die Perskode wat bepaal: “Opskrifte…moet ‘n redelike refleksie van die inhoud van die storie…wees”.

Die klag oor die onder-kop word van die hand gewys.

Onbehoorlik voordeel getrek

Die sin in dispuut was onakkuraat en onbillik, aangesien die OB nié bevind het dat Odendaal “onbehoorlik” bevoordeel is nie. Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode: “Die pers moet nuus waarheidsgetrou, akkuraat en billik aanbied.”

Optrede

Beeld word vermaan omdat die:

·         storie onakkuraat en onbillik dit as ‘n feit gestel het dat die OB “bevind” het dat Odendaal “onbehoorlik” persoonlike voordeel uit transaksies getrek het; en

·         hoof-opskrif Odendaal se reputasie kon benadeel het omdat dit die voortsetting van “onbehoorlike” gedrag, sonder die nodige grond, geïmpliseer het.

Die koerant word ook versoek om die hoof-opskrif reg te stel omdat dit nie die inhoud van die storie gereflekteer het nie.

Die koerant word gevra om die volgende teks te publiseer:

Die Persombudsman het Beeld berispe omdat die koerant onakkuraat en onbillik dit as ‘n feit gestel het dat die Openbare Beskermer “bevind” het dat mnr. Adré Odendaal (van Odendaal & Summerton Ing.) “onbehoorlik” persoonlike voordeel uit transaksies getrek het.

Odendaal het ‘n klag by die Ombudsman ingedien oor ‘n storie wat ons op 9 Maart vanjaar onder die opskrif Midvaal: Kontrak bly – Gerugte kelder nie ooreenkoms gepubliseer het.

Die storie, geskryf deur Maryna Lamprecht, het gesê die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit doen nog (steeds) sake met ‘n prokureursfirma van Meyerton wat betrek word by ernstige bewerings van korrupsie. “Dokumente in Beeld se besit wys dat die Midvaal-munisipaliteit opnuut ‘n diensleweringsooreenkoms met André Odendaal, voormalige DA voorsitter in Midvaal en eienaar van die regsfirma Odendaal & Summerton, gesluit het.”

Die Ombudsman, Johan Retief, het bevind dat ons verkeerd was om te beweer dat die OB “bevind” het dat Odendaal “onbehoorlik” persoonlike voordeel uit transaksies getrek het. Hy het gesê: “Die koerant het tot ‘n ‘bevinding’ gekom waarvoor die OB nie kans gesien het nie en waarvan die uitslag nog afgewag word… die koerant (kon) wel tot die gevolgtrekking (interpretasie) gekom het dat daar aanduidings was dat Ondendaal moontlik onbehoorlik opgetree het. ‘n Versigtiger formulering was daarom nodig.”

Hy het ons ook vemaan omdat die hoof-opskrif Odendaal se reputasie kon benadeel het, aangesien dit die voortsetting van “onbehoorlike” gedrag, sonder die nodige grond daarvoor, geïmpliseer het.

Die opskrif het ook nie die inhoud van die storie behoorlik gereflekteer nie.

Retief het die klag ook die onder-kop van die hand gewys.

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2013) vir die volledige bevinding.

Einde van teks

Appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, Regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman