Daniel Hugo vs. Sondag


Wed, Mar 14, 2012

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman
 
14 Maart 2012

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Daniel Hugo en die Sondag koerant.

KLAG

Mnr. Daniel Hugo kla oor ‘n storie in Sondag wat op 22 Januarie 2012 op bladsy 6 onder die opskrif Digter se koeplet nou trilogie – Sy septer swaar nie meer oor haar gepubliseer is.

Hy kla dat:

·         dit onwaar is dat hy en me. Shané Kleyn 'n liefdesverhouding het;

·         die storie op een bron alleen gebaseer is; en

·         die stelling dat hy ‘n “nul op ‘n kontrak tussen die lakens is”, lasterlik is.

 

Hierby voeg ek die opskrif.

 
 
ONTLEDING
 

Die storie, geskryf deur Inge Liebenberg, sê dat die digter Daniel Hugo (57) se vrou, die roman-skrywer Carina Diedericks-Hugo (35), hom los omdat dit sleg gaan met hul bedsake. Die storie suggereer dat daar sprake van ‘n “literêre liefdesdriehoek” is – skindertonge fluister glo dat Daniel ‘n verhouding met ‘n kollega van hom by Protea Boekhuis, me. Shané Kleyn, het. Die twee vroue het na berig word met mekaar oor dié saak gepraat; Kleyn het die gerugte egter as “gefabriseer” afgemaak.

Ek kyk nou na die meriete van die klag:

Liefdesverhouding: Onwaar

Die berig sê dat daar stories rondloop dat Hugo ‘n verhouding met ‘n jong vrou aangeknoop het en dat Diedericks-Hugo ‘n “baie sterk vermoede” het dat dié persoon Kleyn is.

Hugo kla dat dit onwaar is dat hy en Kleyn ‘n liefdesverhouding sou hê.

In latere korrespondensie voeg hy by dat:
  • daar nooit so ‘n storie in die literêre wêreld bestaan het nie en dat dit onwaar is dat “gefluister” is oor sy skeisaak en oor die vermeende betrokkenheid van Kleyn – hy sê dis woorde soos dié (ook “skindertonge” wat klap en “die storie loop rond”) wat gefabriseer is om te verbloem dat sy vrou waarskynlik die enigste bron vir die storie was; en
  • sy vrou lank reeds bewus was van Kleyn se lang en hegte verhouding met ‘n ander vriendin – en dat dit daarom onverantwoordelik en oneties was om net Diedericks-Hugo se bewerings oor Kleyn se vermeende wisselende seksuele oriëntasie te publiseer sonder om laasgenoemde se kommentaar daaroor te kry.
 

Eerstens: Ek let op dat die berig dit nêrens as ‘n feit stel dat Hugo en Kleyn ‘n liefdesverhouding het nie – die storie verwys eerder na wat Diedericks-Hugo sou gesê/beweer het. En Kleyn het, na berig word, ontken dat die storie waar is.

Uit ‘n joernalistiek-etiese oogpunt gesien, is dit Diedericks-Hugo se reg om te sê wat sy gesê het, en ook die koerant se reg om dit te rapporteer – solank dit duidelik is dat die storie op ‘n mening gebaseer is en bewerings nie as feite aangebied word nie.

Art. 1.3 van die Perskode maak voorsiening vir sodanige beriggewing. Dit lui naamlik onder meer dat, wanneer ‘n storie nie gebaseer is op feite nie, maar op menings, bewerings, gerugte of aannames, dit as sodanig aangebied moet word. Dit is dus moontlik om bewerings te publiseer, solank dit nie as feite aangebied word nie – wat presies is wat die storie telkens doen.

 

Die koerant was dus geregverdig in sy beriggewing – voorlopig, egter. Want hier is ‘n groot “mits” ter sprake – mits die storie naamlik aan die vereistes van verifikasie voldoen, soos deur Art. 1.4 van die Perskode vereis. Joernaliste kan immers nie lukraak eenbron-gerugte sonder bevestiging publiseer nie. Daar moet ‘n “vangnet” wees, ‘n meganisme om die publiek teen onverantwoordelike verslaggewing te beskerm – anders kan mense sê net wat hulle wil, sonder om enige verantwoording daarvoor te doen.

Anders gesê: Daar is ‘n rede waarom Art. 1.4 op Art. 1.3 volg – die twee moet saam gelees word.

Dit beteken dat ek hierdie deel van die klag daarom slegs in die lig van die volgende hofie (een bron, verifikasie) kan beoordeel.

Let wel dat hierdie (voorlopige!) standpunt (naamlik dat die koerant geregverdig was om Diedericks-Hugo se bewering oor Kleyn te plaas) nie beteken dat ek besluit het dat Hugo en Kleyn wel ‘n verhouding gehad het nie – al wat dit beteken, is dat Sondag binne sy reg opgetree het om die bewering te publiseer, en dat die koerant binne die grense van die Perskode gebly het deur die bewerings as sodanig aan te bied.

Mits…

Dié muntstuk het egter ook ‘n ander kant. Dit is naamlik onbillik om bewerings te publiseer wat die potensiaal het om mense skade te berokken, sonder om hul kant van die saak ook te stel.

Ek het die koerant daarom gevra watter pogings die joernalis aangewend het om Hugo te kontak.

Sy sê sy het naamlik:
  • hom op Facebook bevriend;
  • ‘n epos aan hom gestuur;
  • drie keer Protea Boekehuis se landlyn-nommer gebel en een boodskap vir hom gelaat; en
  • probeer om sy selnommer by Diedericks-Hugo te kry.

Ek meen dat dié pogings voldoende was en dat die koerant daarom nie verkwalik kan word dat Hugo se kant van die saak nie gepubliseer is nie.

Op een bron gebaseer

Hugo kla dat die joernalis slegs een bron vir haar storie gehad het, naamlik Diedericks-Hugo. Hy sê dat hy en sy vrou aan die skei was, “en sy wou my klaarblyklik in die openbaar verneder”. Hy argumenteer dat ‘n eenbron-berig niks anders as ‘n skinderstorie is nie.

Art. 1.4 van die Perskode stipuleer dat die akkuraatheid van ‘n berig geverifieer moet word, waar moontlik. Dit sê ook dat, waar verifikasie nie moontlik is nie, dit in so ‘n berig gesê moet word.

Een bron is dus nie genoeg nie – veral nie waar die subjek van rapportering nadeling geraak kan word nie, soos in hierdie geval. Mense se reputasies is immers op die spel.

Ek let op dat, naas die verwysings na Diedericks-Hugo, die berig ook na anonieme bronne verwys wat dieselfde storie as sy sou “fluister” – wat volgens die storie beteken dat daar wel meer as een bron was.

Alles hang dus af van die geloofwaardigheid en selfstandigheid van hierdie bronne.

Ek het daarom die koerant gevra om my van die geloofwaardigheid (en aantal) van hierdie bronne te oortuig.

(Terloops, uit die konteks is dit duidelik dat Kleyn se erkenning – in die berig – dat sy van die storie geweet het, nie na hierdie anonieme bronne verwys nie, maar wel na Diedericks-Hugo. Ek het dus onafhanklike verifikasie gesoek.)

Sondag ontken dat die storie op ‘n enkelbron gebaseer is en sê dis “dis in wese deur verskeie bronne, onafhanklik van mekaar, bevestig”.

 
Die koerant verduidelik dat:
  • hy ‘n wenk ontvang het van ‘n bron wat toegang tot Diedericks-Hugo se Facebook-blad gehad het, waar dié bron te wete gekom het van verhoudingsprobleme tussen haar en haar man;
  • een van Diedericks-Hugo se vriende het gevra of die oorsaak van die probleem met ‘n “poppie” te make het, waarop sy glo “natuurlik” geantwoord het;
  • in die konteks van die Facebook-gesprek, “was die implikasie duidelik dat Hugo glo met ‘n ander vrou deurmekaar was”;
  • hierdie oortuiging die “kiem vir die storie” was;
  • Liebenberg toe vir sowel Diedericks-Hugo as Hugo op Facebook “bevriend” het – wat beteken dat bogenoemde inligting nie binne ‘n geslote vriendekring plaasgevind het nie;
  • toe die joernalis vir Diedericks-Hugo gebel het, het laasgenoemde vir Kleyn as ‘n moontlike derde party geïdentifiseer; en
  • Liebenberg daarop vir Kleyn gebel het.
Intussen, gaan Sondag voort, het:
  • die koerant “onafhanklike” bevestiging ontvang vanaf ‘n senior joernalis, wat inligting van ‘n betroubare en gesaghebbende bron gekry het wat bevestig dat Hugo en sy vrou inderdaad huweliksprobleme gehad het – en dat ‘n derde persoon daarby betrokke was; en
  • ‘n verdere, onafhanklike en betroubare bron in wie die koerant “absolute vertroue” het, dié inligting bevestig. Die koerant sê: “Die inligting was tot die effek dat Hugo glo self erken het dat hy al vir ‘n geruime tyd intiem by Kleyn betrokke is.” Hierdie inligting is aan die koerant gegee met die verstandhouding dat dit nie eens in die storie aangehaal sou word nie – dit het dus bloot as redaksionele bevestiging gedien van die betroubaarheid van inligting wat die koerant vanaf ander bronne ontvang het.

Die koerant voer ook aan dat daar gerugte was waarvan Kleyn self bewus was nog voordat die joernalis haar gekontak het.

 

Sondag konkludeer dat sy bronne geloofwaardig is, dat twee bronne (voorheen “verskeie bronne” genoem) totaal onafhanklik van mekaar is, en dat dié bronne met verskillende joernaliste oor die saak gepraat het.

 

Terloops, Hugo sê dat die joernalis hom in haar persoonlike hoedanigheid bevriend het, en dat dit nie deur Sondag se Facebook-blad gedoen is nie – “haar sogenaamde ‘vriendskaps’uitnodiging het dus ‘n verskuilde, openbare agenda gehad”.

Ek aanvaar nie dat die joernalis ‘n “verskuilde agenda” gehad het nie – op haar Facebook-blad word sy as ‘n verslaggewer geïdentifiseer.

Naas die korrespondensie, het ek ook telefonies met Sondag se regsverteenwoordiger gepraat. Hy verseker my daarvan dat die anonieme bron wel bestaan en dat hy/sy geloofwaardig is. Hy was egter nie in ‘n posisie om daardie bron se identiteit aan my bekend te maak nie, en ek het dit so gerespekteer.

 

In my beoordeling van hierdie saak moet ek tussen drie sake onderskei: Die feit dat Hugo en Diedericks-Hugo huweliksprobleme het (wat nie in dispuut is nie, en waaroor ook nie gekla word nie), die moontlikheid van ‘n derde party in Hugo se lewe (waaroor hy ook nie gekla het nie), en die identifisering van Kleyn as die moontlike derde party (waaroor hy wel kla). Ek bepaal my daarom by laasgenoemde.

Ek let op dat die oorwig van die koerant se argument in hierdie verband om die eerste twee sake gaan; Sondag sê egter wel ook dat twee bronne vir Kleyn geïdentifiseer het – Diedericks-Hugo, op die rekord, en ‘n anonieme bron, van die rekord af (en aan wie Hugo na bewering sou erken het dat hy en Kleyn ‘n verhouding gehad het).

 

Hugo, aan die ander kant, ontken dat daar so ‘n tweede bron was.

Dit laat my met ‘n situasie van “is”, “is nie” – ‘n onmoontlike taak om te besluit wie reg en wie verkeerd is. Ek het naamlik geen bewyse dat die ander bronne wel bestaan nie, slegs Sondag se woord. Ek kan wel maklik die koerant se woord aanvaar, maar dan kan Hugo met reg vir my vra hoekom ek nie ook sy woord aanvaar dat daar nooit ‘n verhouding tussen hom en Kleyn was nie. Waarom sou ek die anonieme bron se woord bó dié van Hugo aanvaar? Of andersom?

Terug na die twee bronne, of een bron. Hierdie is ‘n belangrike kwessie, want die Perskode vereis verifikasie. Ek interpreteer die Kode dat, hoe groter onnodige skade aan iemand se beeld gedoen kan word, des te belangriker word verifikasie. In hierdie geval gaan dit om Hugo se reputasie en openbare beeld – en word verifikasie inderdaad belangrik.

Dit is soveel meer die geval omdat die een bron wat wel aangehaal word (Diedericks-Hugo), by die saak betrokke is en daarom bymotiewe kan hê (ek sê nie dat dit wel die geval is nie, maar noem dit tog as ‘n teoretiese moontlikheid wat in gedagte gehou moet word).

Hier is my oorweging: Al aanvaar ek ook die legitimiteit en selfstandigheid van die koerant se tweede (of derde) bron, word die bestaan van daardie bron nie in die storie gereflekteer nie. Die stelling wat sê dat geregtigheid nie net moet geskied nie, maar dat dit ook gesien moet word dat dit geskied, geld hier ook – dit help nie dat die koerant wel ander bronne het wat die bewering van ‘n eerste bron bevestig, maar die publiek word nie daaroor ingelig nie.

Dit is nie goed genoeg om inligting wel deur ander bronne te verifieer, en dan daaroor te swyg nie.

Die een-bron-identifisering van Kleyn, nogal deur ‘n persoon wat in ‘n “driehoek” betrokke was of kon gewees het, plaas boonop vraagtekens agter die waarheidsgehalte daarvan – wat die moontlikheid van onnodige skade aan Hugo kan impliseer.

Ek moet ook sê dat ek die ooreenkoms tussen die koerant en die anonieme bron vreemd vind. Deur bloot na ‘n tweede bron te verwys het, sonder om besonderhede te verskaf oor wat hierdie persoon se posisie is, kan hom/haar tog op geen manier geïdentifiseer het nie? En dit sou nie net die storie versterk het nie, maar ook aan die vereistes van die Perskode laat voldoen het.

‘Nul op ‘n kontrak’

Die gedeelte in dispuut lui dat Diedericks-Hugo haar man los “omdat hy ‘n nul op ‘n kontrak tussen die lakens is”.

Hugo sê dié bewering is lasterlik.
 
Sondag sê dat:
  • die perskode nie lasterlike stellings verbied nie, maar bloot vereis dat stellings wat op menings of bewerings gebaseer is, as sodanig aangebied moet word;
  • ‘n bewering soos dié uit die aard van die saak nie onafhanklik geverifieer kan word nie;
  • Hugo se reaksie op dié stelling in die storie sou verskyn het as hy die geleentheid gebruik het om op die joernalis se navrae te reageer; en
  • die “erotiese en seksuele fasette” van sy bekende boek Saad uit die Septer tot die publikasie van die bewering bygedra het.
 

Hugo sê die storie bied sy vermeende impotensie as ‘n feit aan, en nie as ‘n gerug nie – soos die gebruik van die woord “is” in die sin in dispuut aandui. Hy voer aan dat die koerant ‘n verantwoordelikheid gehad het “om hom daarvan te weerhou om haar feite-stelling voort te sit en as waarheid (‘is’) aan te bied”, en voeg by dat mediawette die publikasie van lasterlike of ongegronde stellings verbied.

 

Eerstens, die koerant se stelling dat die Perskode nie laster verbied nie, verdien kommentaar. Hoewel die Perskode inderdaad nie laster by die naam noem nie, kan die Kode beslis nie in dié verband geïgnoreer word nie. So byvoorbeeld sê die aanhef tot die Kode dat joernaliste moet streef na maksimum-waarheid en dat hulle die aandoen van onnodige skade moet vermy; Art. 1.1 verbied onware en onbillike beriggewing. Die afwesigheid van die woord “laster” in die Kode kan nooit joernaliste vrypas gee om dit te pleeg nie.

 
Dis boonop teen die wet.
 

Tweedens, Hugo se stelling dat die storie sy vermeende impotensie as ‘n feit aanbied, is ook nie korrek nie – dit word duidelik as Diedericks-Hugo se mening aangebied, al gebruik sy ook die werkwoord “is”.

 

Nou: Wat hierdie deel van die klag self betref, bevind ek my tussen die duiwel en die diep blou see. Om vas te stel of die bewering lasterlik is, moet ek naamlik weet of dit waar is of nie – ‘n mens kan immers nie iemand met die waarheid belaster nie.

 

Ek is egter in geen posisie om die waarheid van die stelling vas te stel nie.

 

Dis die dilemma: As ek sou besluit die bewering is lasterlik, beteken dit dat ek aanvaar dat dit vals is – wat ek nie kan doen nie omdat ek geen grond daarvoor het nie; as ek tot die teenoorgestelde gevolgtrekking sou kom, impliseer dit dat ek aanvaar dat dit waar is – wat ek ook nie kan doen nie omdat ek ook daarvoor geen grond het nie.

 

Dit beteken dat ek in geen posisie is om ‘n uitspraak in hierdie verband te lewer nie.

 

Ek kan ook nie die koerant verkwalik dat hy nie hierdie uitspraak geverifieer het nie.

 
 

Die opskrif

 
Die opskrif lui: Digter se koeplet nou trilogie.
 

Hoewel Hugo nie oor die opskrif gekla het nie, het dit my aanvanklik gepla. Op die oog af lyk dit of die opskrif dit as ‘n feit stel dat daar ‘n “liefdesdriehoek” is – anders as die storie, wat dit as bewerings aanbied. Ek het dit daarom by die klag gevoeg, omdat ek die koerant se mening hieroor wou hoor.

 

Sondag voer aan dat ‘n opskrif nie in isolasie van die storie gesien moet word nie – lesers sou binne die eerste drie paragrawe verstaan het dat dit bloot bewerings is. Gelees saam met die onderskrif en die subhoof, laat dit “geen twyfel oor die inhoud van die berig nie”.

 

Die koerant voeg by dat dit insiggewend is dat Hugo nie kla dat dit onwaar is dat daar ‘n trilogie is nie – hy kla bloot dat hy nie ‘n liefdesverhouding met Kleyn het nie. Die publikasie wys ook op sy bronne, wat beweer dat Hugo wel by ‘n derde persoon betrokke is.

 

Hugo sê daarenteen dat ‘n opskrif wel in isolasie van ‘n berig gesien kan word. “Navorsing het bewys dat lesers hoofsaaklik ‘n koerantberig se opskrif, die onderskrif van ‘n foto en sowat ‘n derde van ‘n berig lees. Om te wil beweer dat hierdie opskrif dus noodwendig in samehang met die berig gelees word, is bloot onwaar. Enige ‘beweringe’ in die berig ontkrag nie die feitestelling van die opskrif nie.”

 

Art. 11.1 van die Kode lui: “Opskrifte…moet ‘n redelike weergawe van die inhoud van die storie…reflekteer.”

 

Wanneer ‘n mens die saak uit alle moontlike hoeke bekyk, is dit wel moontlik om die opskrif as ‘n feit te interpreteer soos wat ek aanvanklik gedoen het, wat dan nie ‘n redelike weergawe van die storie sou wees nie en daarom die Kode sou verbreek. Dis egter ook moontlik om te sê dat die woord “trilogie” nie noodwendig op ‘n feit dui nie (in die sin dat daar werklik ‘n trilogie bestaan), maar eerder op die feit dat daar so ‘n gerug is.

 

Uiteindelik bestaan daar vir my genoeg twyfel oor dié saak dat ek nie tot ‘n bevinding kan kom dat die Perskode hier verbreek is nie. Ek gee dus die voordeel van die twyfel aan die koerant.

 
 
 
BEVINDING
 
 
Liefdesverhouding
 

Hierdie deel van die klag kan nie selfstandig beoordeel word nie, maar moet saam met die volgende hofie gelees word.

 
 

Op een bron gebaseer

Die storie dig die identifisering van Kleyn as ‘n moontlike derde party in Hugo se lewe net aan een bron toe – ‘n bron wat boonop bymotiewe kon gehad het, en wat dus vraagtekens plaas agter die waarheidsgehalte van die bewering. Omdat dit onnodige skade aan Hugo se openbare beeld kon doen, moes die koerant hierdie bewering geverifieer het; as dit wel geverifieer is, moes dit so vermeld gewees het.

Dit verbreek Art. 1.4 van die Perskode wat lui: “Wanneer daar rede is om die akkuraatheid van ‘n berig te betwyfel en dit prakties haalbaar is om die akkuraatheid daarvan te verifieer, sal dit geverifieer word. Wanneer dit nie prakties haalbaar is om die akkuraatheid van ‘n berig te verifieer nie, sal dit in so ‘n berig genoem word.”

Die verbreek ook Art. 5 van die Perskode wat lees: “Die pers sal uitsonderlike sorg en oorweging skenk in sake wat mense se waardigheid en reputasie raak…”

 
 

‘Nul op ‘n kontrak’

 

Geen bevinding.

 
 

Die opskrif

 
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
 
 
OPTREDE
 

Sondag word versoek om Hugo om verskoning te vra omdat die berig onnodige skade aan sy waardigheid en reputasie kon gedoen het deur die identifisering van Kleyn as ‘n moontlike derde party in sy lewe net aan een bron toe te dig – ‘n bron wat boonop betrokke was in sy lewe en agter wie se bewering vraagtekens geplaas kon word.

Sondag word versoek om ‘n opsomming van hierdie bevinding en sanksie te publiseer.

 

Die teks moet begin met die konteks en die verskoning, waarna die koerant vry is om uit te brei op die dele van die klag wat van die hand gewys is. Die teks moet afgesluit word met: “Sien www.presscouncil.org.za (rulings 2012) vir die volledige bevinding.”

 

Die koerant word versoek om die teks vir publikasie voor te berei en aan hierdie kantoor vóór publikasie voor te lê.

 

Omdat hierdie kantoor twee klagte oor dieselfde berig gehanteer het (een van Hugo en een van Kleyn), staan dit Sondag vry die twee tekste te kombineer – sou die koerant dit sinvol kon doen.

 

Die koerant word versoek om die teks op bladsy 6 te publiseer. Indien daar geen appèl is nie, moet dit op 25 Maart of 1 April 2012 gedoen word.

 
 
APPèL
 

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

 
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman