Skip to main content

Doris Gouws vs. Beeld


Sat, Jul 20, 2013

 

Bevinding deur die Persombudsman

20 Julie 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van Mev. Doris Gouws en Beeld.

Klag

Mev Doris Gouws kla oor ‘n storie in Beeld, gepubliseer op 1 Julie 2013 onder die opskrif Vlieënier tóé onbevoeg: ‘Besope toestand’ dra by tot ramp – 2 se bloedalkoholvlakke was hoog.

Sy kla dat die storie verkeerdelik gesê het dat haar seun, Thinus, besope was en dat sy toestand sou bygedra het tot ‘n helikopterramp waarin sewe polisielede dood is.

Ontleding

Die storie, geskryf deur Sonja Carstens, gaan oor ‘n helikopterramp in 2010 waarin verskeie polisielede dood is. Sowel die vlieënier as Thinus was na bewering besope – wat glo gedeeltelik tot die ramp bygedra het.

Doris Gouws sê dat haar seun se bloedalkoholvlak 0.02mg/100ml was en noem dit ‘n “negatiewe lesing”. Sy lei daaruit af dat Thinus nie besope kon gewees het nie en dat die berig daarom sy naam beswadder het. Sy wys ook daarop dat Thinus nie die helikopter gevlieg het nie.

Beeld voer aan dat hy die feit dat Thinus nie die mede-vlieënier was nie, reeds op 1 Maart 2013 reggestel het.

Ek let op dat die storie die stelling dat Thinus “besope” sou wees aan die aanklaer in die saak, mnr. Thinus van Eeden, toegeskryf het. Doris Gouws betwis nie dat die aanklaer dit gesê het nie (en Beeld sê dat sy woorde deel van die hofrekords is). Ek aanvaar daarom dat die koerant bloot gerapporteer het wat Van Eeden gesê het – wat Beeld se volste reg was om te doen.

Let asseblief daarop dat ek níé hiermee beweer dat Thinus Gouws besope was – dit is vir ‘n ander instansie om oor te besluit. My oorweging is bloot ‘n joernalistieke een. Ek is naamlik (om bogenoemde rede) daarvan oortuig dat Beeld binne die grense van die Perskode opgetree het met die skryf en publisering van hierdie berig. Die koerant het niks om reg te stel of om verskoning voor te vra nie.

Ek meld ook terloops dat ‘n mens nie ‘n oorledene kan belaster nie.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, Regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman