Skip to main content

Francois en Christene van Wyk vs. Paarl Post


Wed, Feb 29, 2012

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman

30 Maart 2010
 
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. F. en mev. C. van Wyk en Paarl Post.
 
Klag
 
Mnr. Francois van Wyk en sy vrou, Christine – onderskeidelik die voormalige voorsitter en tesourier van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Wellington – kla oor ‘n berig van 14 Januarie 2010 (Wellington SPCA to rise again) in Paarl Post.
 
Oor die volgende word gekla:
  • Die koerant berig oor die Van Wyks, maar sonder om hulle vir kommentaar te nader;
  • Daar word geïnsinueer dat die Van Wyks geld gesteel of vir eie gewin gebruik of op eie houtjie gespandeer het;
  • Dis onbillik om te noem dat R400 000 van die DBV bestee en dat skuld van R40 000 aangegaan is, sonder om te sê waarop die geld uitgegee is en waarvoor die skuld gemaak is;
  • Die verwysing na “bankrotskap” is ‘n wanvoorstelling; en
  • Dit is onmoontlik, soos berig, dat die vorige komitee nie van die krisis geweet nie.
Ontleding
 
Die berig in dispuut is onder meer geskoei op ‘n persverklaring van die hoofbestuurder van die DBV in die Wes-Kaap, mnr. Allan Perrins, waarin bekend gemaak word dat die Wellington-tak geldelike probleme ondervind.
 
Die berig vertel die verhaal van die gemeenskapsvergadering van 22 Desember 2009 waarop besluit is om die DBV oop te hou. ‘n Swaard hang egter oor die DBV se kop nadat die Van Wyks dit na bewering tot bankrotskap gedryf het, word verder berig.
(Toe die berig gepubliseer is, het die Van Wyks reeds bedank – hulle was egter betrokke toe “foute” begaan is wat tot die geldelike krisis gelei het).
 
Paarl Post het nie inhoudelik op die klag gereageer nie, maar het voorgestel dat ‘n brief van die Van Wyks geplaas word, onder hul naam, waarin hul kant van die saak gestel word. Die Van Wyks was nie daarvoor te vinde nie – hulle wou eerder ‘n opvolg-berig hê waarin alle relevante feite gestel word. Hiermee was die koerant op sy beurt nie geneë nie.
 
Ons kyk nou na die meriete van die klag.
 
Nie om kommentaar genader
 
Die feit dat die Van Wyks reeds uit die DBV bedank het toe die gemeenskapsvergadering gehou is (waaroor gerapporteer is) en dat hulle boonop nie die vergadering bygewoon het nie, moes Paarl Post nie daarvan weerhou het om die Van Wyks om kommentaar te genader het nie – die artikel hou immers die Van Wyks direk vir die DBV se “bankrotskap” verantwoordelik.
 
Dis ‘n ernstige stelling, wat nie deur die gebruik van die woorde “na bewering” genoegsaam versag word nie – geen bron word immers in hierdie verband genoem nie; nog minder word die stelling geverifieer. (Dit word nie in Perrins se verklaring, wat in die koerant se besit was, beweer nie.)
 
Billikheid verg dat die Van Wyks ‘n regverdige kans moes gekry het om hul kant van die saak te stel. Hier is die skade aan hulle nie geminimaliseer nie, soos gesonde, etiese joernalistiek dit vereis.
 
Luister na die ander kant.
 
Op eie houtjie; vir eie gewin
 
Die klag dat die koerant sou geïnsinueer het dat die Van Wyks op eie houtjie R400 000 van die DBV se “spaargeld” op onbenullighede gespandeer het, kan nie gehandhaaf word nie. Hoewel die Van Wyks direk vir die “bankrotskap” verantwoordelik gehou word, stel die artikel dit duidelik dat R400 000 deur die DBV-tak – en nie die Van Wyks alleen nie – gespandeer is.
 
Nêrens in die berig word ook gesê of geïnsinueer dat die Van Wyks die geld vir eie gewin aangewend het nie.
 
Hier is egter ‘n ander probleem: Perrins se verklaring sê duidelik dat bedrog nie vermoed word nie. Paarl Post het daardie verklaring met die skryf van die betrokke verklaring in sy besit gehad – maar die koerant skryf nie dat bedrog nie vermoed word nie. Die gemiddelde leser sal waarskynlik dadelik wonder waarvoor die geld aangewend is, waarvoor die skuld aangegaan is en of dit dalk in iemand (mense in gesagsposisies?) se sak beland het. Die feit dat die joernalis nagelaat het om te noem dat geen bedrog vermoed word nie, laat ‘n belangrike deel van die berig in die lug hang en skep ruimte vir onnodige spekulasie – tot die moontlike nadeel van die Van Wyks.
 
Weer eens is die waarheid nie gemaksimaliseer en skade nie geminimaliseer nie.
 
Skuld, besteding
 
Die Van Wyks sê die R40 000 skuld waarna die berig verwys, is aan die Wellington Dierehospitaal verskuldig; hulle sê dat hulle reeds reëlings getref het dat dit betaal sou word uit Lotto-geld van meer as R600 000 wat aan die DBV verskuldig was. Hulle voeg by dat van elke sent van die R400 000 wat gebruik is, verslag gedoen kan word.
 
Bogenoemde inligting sou nodige balans aan die berig gegee het. Daarsonder skep die berig egter ruimte vir onnodige spekulasie wat die Van Wyks nadelig kon raak.
 
Bankrotskap
 
Dat die Van Wyks instrumenteel was in die bekom van die Lotto-geld, word deur niemand betwis nie – maar dis dieselfde Van Wyks wat volgens die koerant die DBV se “bankrotskap” sou bewerkstellig het! Dit klop nie. Daar was wel ‘n tydperk van geldelike verknorsing of tegniese bankrotskap; daar was egter ook Lotto-geld van meer as R600 000 op pad; boonop is die organisasie nooit bankrot verklaar nie.
 
Daarom is die gebruik van die woord “bankrotskap” onakkuraat en onbillik.
 
Ander komiteelede
 
Volgens Perrins se persverklaring is die bestuurskomitee nie deur die Van Wyks oor die geldelike probleme ingelig nie. Heel tereg berig die koerant daaroor. Dit was egter ook belangrik dat kritiese vrae daaroor gevra moes word – die stelling dat die krisis eers aan die lig gekom het nadat die Van Wyks bedank het, skep immers die indruk van geheimhouding.
 
Hier is twee moontlikhede:
  • Die Van Wyks het nie die krisis geheim gehou nie – maar dan is die gebrek aan kritiese vrae tot hul nadeel; of
  • Die Van Wyks het wel die krisis geheim gehou – maar dan was dit juis die koerant se plig om indringende vrae daaroor te vra.
As die joernalis wel kritiese vrae gevra het oor hoe dit moontlik is dat die ander lede van die destydse komitee van geen krisis geweet het nie, word dit nie in die berig gereflekteer nie.
 
Weer is daar ruimte vir onnodige spekulasie – weer tot die moontlike nadeel van die Van Wyks.
 
Bevinding
 
Nadat die koerant berig het dat die Van Wyks na bewering vir die “bankrotskap” van die Wellington se DBV-tak verantwoordelik was, behoort die koerant hulle om kommentaar te gevra het. Hierdie nalating is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode, wat onder meer bepaal dat die pers nuus billik moet rapporteer.
 
Die klag dat die koerant sou geïnsinueer het dat die Van Wyks geld gesteel of vir eie gewin gebruik of op eie houtjie gespandeer het, word van die hand gewys.
 
Die feit dat die koerant nie gerapporteer het dat geen bedrog vermoed word nie, het ernstige skade aan die balans van die berig aangebring en die Van Wyks moontlik onnodige skade berokken. Dit verbreek Art. 1.2 van die Kode, waarin onder meer gesê word dat nuus binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied moet word en dat belangrike feite nie verswyg mag word nie.
 
Dit is onbillik dat nagelaat is om te noem waarop die R400 000 bestee is en waarvoor die skuld aangegaan is aangesien dit vrae in die lug laat hang wat die Van Wyks onnodig nadelik kon raak. Dit verbreek Art. 1.2 van die Kode, wat onder meer bepaal dat nuus in konteks en gebalanseerd gerapporteer moet word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite, hetsy deur wesenlike weglatings of opsomming.
 
Die gebruik van die woord “bankrotskap” is nie akkuraat of billik nie en is dus ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Kode.  
 
Die feit dat geen poging in die berig aangewend word om te verduidelik waarom die ander lede van die komitee nie van die stand van sake geweet het nie, verbreek Art. 1.2 van die Kode.
 
Optrede
 
Die koerant word versoek om die volledige bevinding van die Adjunk- Persombudsman te publiseer. Die berig moet die volgende sin bevat: “Indien die Van Wyks se openbare beeld hierdeur skade berokken is, vra die koerant hulle daarvoor om verskoning.”
 
Die koerant word versoek om die berig voor publikasie aan die Adjunk- Persombudsman beskikbaar te stel.
 
Appèl
 
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word.
 
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman