Skip to main content

Marizka Coetzee vs. Rapport


Wed, Mar 13, 2019

Besonderhede

Datum van artikel: 25 November 2018

Opskrif: Tydskrif-joernalis verlief op afspraakmoordenaar (voorblad); Joernalis verlief op ‘n tronkvoël – Huisgenoot-skrywer geskors oor verhouding met moordenaar (bl. 3)

Skrywer van artikel: Jana Smit

Respondent: Alet Wichmann, Rapport se interne ombud

Klag                                            

Coetzer se hoofklag is dat Rapport dit as ‘n feit gestel het dat sy liefde gevind het by Le Roux Steyn.

Sy kla ook dat die:

·         joernalis:

o   valslik berig het dat haar huwelik verbrokkel het;

o   haar nie om kommentaar genader het nie; en

·         storie nie in die openbare belang was nie.

Die teks

Die storie handel oor ‘n liefdesverhouding tussen Coetzer, ‘n voormalige Huisgenoot-joernalis, en Steyn, wat tronkstraf uitdien nadat hy skuld beken het in die sogenaamde Krugersdorp-afspraak-moordsaak.

Ontleding

Liefde gevind

Rapport het meer as twintig Whatsapp-boodskapp van Coetzer aan my beskikbaar gestel wat dit glashhelder duidelik maak dat sy inderdaad verlief was op Steyn.

Woorde het betekenis, en dit help nie om agterna te probeer om ander betekenisse daaraan te heg nie, soos wat Coetzer doen.

Ek gaan haar die verleentheid spaar deur nie dele daarvan hier aan te haal of die argumente in dié verband te dokumenteer nie. Dis genoeg om te sê dat die koerant inderdaad geregverdig was in sy beriggewing, en dat die bewyse daarvoor oorweldigend is.

Terloops, ek waardeer dit dat Rapport ook nie uit die Whtsapp-boodskappe aangehaal het nie.

Huwelik verbrokkel

Die storie stel dit nie as feit dat Coetzer se huwelik verbrokkel het nie – Smit het berig dat dit “glo” die geval is.

Gegee die inhoud van die Whatsapp-boodskappe, kan ek nie Rapport verkwalik dat hy hierdie bewering as bewering gepubliseer het nie.

Kommentaar

Op 23 November, twee dae voor publikasie, het Smit ‘n uitvoerige epos aan Coetzer gestuur waarin sy haar verskeie vrae oor haar verhouding met Coetzer gevra het. Ek vind dit totaal onverstaanbaar dat sy hoegenaamd hierdie klag ingedien het.

Openbare belang

Wanneer iemand verlief raak op ‘n moordenaar wat tronkstraf uitdien, is dit gewoonlik nuus. In hierdie geval nog meer so, omdat Coetzer ‘n boek oor Steyn skryf. Die publiek het tog sekerlik die reg om te weet vanuit watter hoek sy dié saak benader.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Appèl

Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombud